Vrywaring: Hierdie is 'n ressensie van die fliek "Dominee Tienie", en 'n anneliese van wat fout gegaan het in die kerk in die fliek. Dit is nie bedoel as 'n evaluering van die NG as geheel nie.
Agtergrond:
Die fliek handel oor die NG Kerk, wat voor 1994 as die de facto Staatskerk van Suid-Afrika gefunksioneer het. Dit was die grootste van die drie-suster kerke, die invloed van die kerk was sterk gevoel in die samelewing, en ampsdraers was gesiene mense in die bree samelewing. Na 1994 het die getalle van die NG kerk skerp gedaal. Die fliek handel oor die krisis wat die kerk tans beleef, veral gesien vanuit die oogpunt van ds Tienie, en die fliek stel 'n moontlike oplossing voor vir die kerk.
Probleem in die kerk : Afgewaterde evangelie
Die fliek spreek 'n hele aantal probleme aan in die kerk - meestal van dit is akkuraat: 'n dalende lidmaat getal, te veel druk op predikante, en lidmate se skeinheiligheid en liefdeloosheid. In die fliek kom daar egter 'n dieper probleem na vore - iets wat die fliekmakers waarskeinlik nie bedoel het nie: Die afwesigheid van Jesus Christus en die evangelie in die kerk.
Reg in die begin, vertel ds. Tienie hoe hy tot bekering gekom het. Dit was op 'n jeugkamp, en die jeugleier het gepraat van God wat lig en lewe is, en wat mense lei na die hemel. Hy praat ook van mense wat weg van God lewe, en wat hel toe gaan. Tienie het na die tyd na die leier toe gegaan, en gesê: hy wil "sy hart vir die Here gee". Daar het hulle gebid, en hy het gehuil oor sy sondes. Van daardie dag af wou hy predikant word en ander mense ook na God lei.
Alles goed en wel, maar daar is twee ernstige leemtes in hierdie getuienis. Die eerste, en die grootste, is dat die evangelie, wat die belangrikste deel is, verswyg is. Niks word genoem van Jesus en wat Hy gedoen het om sonde versoening te bewerkstellig nie. Ek praat onder korreksie, want ek het die fliek net een keer gesien, maar vir 'n fliek wat oor die kerk gaan is daar skokkend min oor Jesus en die evangelie gesê. Die enigste keer wat ek kan onthou dat daar iets van gesê is, is tydens die nagmaal formulier. Nooit word daar genoem dat Jesus Christus 'n geweldige prys betaal het aan die kruis om vir ons sondes te betaal nie. Daar word net genoem dat Tienie "Sy hart vir die Here gegee het" en "oor sy sondes gehuil het". Dit bring my by die twede punt:
Die ontkenning van die uitverkiesing. Dis nie God wat in sy almag en alwysheid vir Tienie uitgekies het voor die grondlegging van die aarde nie. Nee, Tienie het sy hart vir die Here gegee, oor sy sondes gehuil, en dit het die verhouding tussen hom en God herstel. Dit is ook nie die Heilige Gees wat mense tot geloof bring nie, nee dit is sy taak as predikant om "Mense te red".
Hierdie twee punte is 'n baie belangrike rede vir amper al die probleme wat hy gaan ervaar deur die res van die fliek.
Probleem in die kerk : Terugkeer na Roomse priesters en leke:
Halfpad deur die fliek kry ds Tienie visitasie van 'n mede leeraar om die probleem in sy gemeente aan te spreek: Die drastiese vermindering van gemeentelede. Later in die fliek sê ds Tienie dat die belydende lidmate oor 16 jaar geval het van 800 tot 150 mense.
Hierdie gesprek gee 'n insiggewende blik van waaroor dit werklik gaan vir die predikante. Daar word glad nie gepraat oor Jesus Christus, die evangelie of die suiwer verkondiging van die Woord nie. Inteendeel, vir die besoekende predikant gaan dit oor die verlies van aansien. Hy kla: vroeër het 'n getuigskrif vanaf die predikant baie beteken in die samelewing. Nou kom vra mense hom nie eers meer nie. Vir hom het dit dus nooit gegaan oor die evangelie nie, maar oor sy eie aansien in die gemeenskap. Om die saak te probeer beredder, neem hy nou klasse hoe om beter te kommunikeer en aan te pas by 'n "Post moderne samelewing". Die kerk moet dus by die samelewing aanpas om sy lidmate te behou. Een van die lesse wat hy geleer word is: "Dit is nie wat jy sê nie, maar hoe jy dit sê." Ironies verskil dit ook nie veel van wat hy onthou van sy professors by die universiteit nie. Wanneer hy terugdink aan sy professors, onthou hy nie die Grieks, Hebreeus, Sistematiese teologie of eksegeuse nie, maar hoe die predikant hom op die preekstoel moet gedra. Die langdradige, dramatiese preekstyl wat soveel mense oor die jare frustreer het, is doelbewus by die kweekskool aangeleer.
Hierdie is natuurlik alles in skrille kontras met 1 Korintiërs 1-4, waarin Paulus juis uitdruklik beklemtoon dat niemand gered word op grond van wêreldwyse retoriese tegnieke nie, maar deur die suiwer verkondiging van die Woord en die inwerking van die Heilige Gees. Die apostels het nie met 'n spesiale preekstyl of slim redenasie tegnieke mense oorgehaal nie, hulle het met hulle allerdaagse stem gepraat oor wat Jesus gedoen het. Volgens die Bybel is dit dus juis nie hoe jy dit sê nie, maar wat jy sê. Baie van die mense wat God in die Bybel geroep het, het ook die verskoning gemaak dat hulle nie goed kan prat nie, tog het God juis hulle gekies.
Hierdie oordrewe aansien wat die predikante in die verlede ervaar het, gaan teen die grein van die kerk hervorming in. In die Roomse kerk was daar onderskeid getref tussen die leke, en die priesters. Die leke is in die duister gehou, en hulle is afhanklik gemaak van die priesters, wat dan as tussengangers tussen die leke en God moes dien. Dit het die priesters dus geweldig baie mag en aansien onder die leke gegee. Die Bybel leer ons egter dat ons net een Hoëpriester het, en deur Hom het ons direkte toegang tot die Vader. Die kerkhervorming het dus die Bybel uit die hand van die priesters gevat, en dit in die hand van die gewone gelowige gesit. Dit is die verantwoordelikheid van elke lidmaat om die Bybel te bestudeer, en hom daarin te verdiep om so tot 'n dieper kennis van, en verhouding met God te kom. Die predikant is bloot net daar om leiding en onderrig te gee, maar hy het beslis nie 'n spesiale, ekskusiewe kontak met God nie. In die fliek het die situasie egter teruggekeer na die Roomse siening van 'n predikantskerk. Die lidmate verruil hulle verhouding met God met 'n verhouding met die predikant, en dan is dit asof dit die predikant se werk is om hulle in die hemel te kry. Die lidmate se Bybelkennis is maar skraal, en daar is geen betrokkenheid bymekaar nie: Die predikant moet alles vir almal wees, maar self leef die lidmate nes hulle wil. Dit lei dan ook daartoe dat die predikant sy gesin afskeep vir die gemeente. Ons sien iets hiervan in die klagtes van ds Tienie: Die emosionele rollercoaster van besoeke aan kanker passiente aan die eenkant, en dan die vreugde van pasgebore babas kort daarna.
Terloops - is dit die predikant se werk om siekes in die hospitaal te besoek? Ten eerste, omdat die siekes geestelik volwasse genoeg behoort te wees om self hulle smart na God te bring, en nie afhanklik te wees van 'n predikant om dit namens hulle te doen nie. Ten twede, is dit juis hiervoor wat diakens aangestel is, sodat die predikant se woordverkondiging nie skade lei omdat hy te besig is met die versorging van die gemeente se fisiese behoeftes nie. (Handelinge 6) Die primêre taak van die predikant is nie om mense in nood te besoek nie, maar om die Woord te verkondig, en dit vat baie van sy tyd om daarvoor voor te berei. Geen van sy ander pligte mag soveel tyd opneem dat dit inbreuk maak op hierdie plig nie. Die gemeentse moet self verantwoordelikheid neem om na mekaar se fisiese versorging om te sien, onder leiding van die diakens. As die predikant al die verantwoordelikhede van die gemeente oorneem, hoe kan daar dan 'n gemeenskap van die Heiliges wees?
Ons sien dus dat die predikante ooreis word, omdat die gemeente van hulle Roomse Priesters gemaak het, en hulle het dit toegelaat.
Probleem in die kerk: Gebrek aan Christelike dissipline
Voorheen kon predikante met gesag praat, want hulle kerke was vol, en hulle was gesiene mense in die samelewing. Maar toe loop die kerke leeg, en nou is die predikante verleë. Uit vrees dat hulle nog lidmate kan verloor, buig hulle nou agteroor om almal ter wille te wees. Vroeër was hulle 'n gesagsfiguur, nou is hulle 'n maatjie vir almal. Tot so 'n mate dat gemeentelede in die predikant se huis sy vrou kan beledig, sonder dat die predikant vrymoedigheid het om vir haar op te kom. Die belangrikste beginsel nou is om mense te behou, en daarvoor moet tog niemand aanstoot gegee word nie. Tog, se 1 Kor 1 dat die evangelie aanstootlik is vir die onbekeerde mens. Dit is die predikant se plig om die Woord suiwer en volledig te verkondig, selfs al gee dit aanstoot, en selfs al dryf dit mense weg. Dit is hoe God sy kerk suiwer.
Omdat die predikant geen aanstoot wil gee nie, is daar ook geen dissipline in die kerk meer nie. Die hoof ouderling het al twee keer geskei en drie keer getrou - die derde keer voor 'n magistraat - seker omdat die kerk hom nie weer wou trou nie. Hiervoor moes hy onder die kerklike tug geplaas word, maar tog is hy ouderling! Dit maak dan dat daar 'n siening in die kerk onstaan dat sonde nie so erg is nie, want ons almal is mos sondig. Daar word ook valslik in die Kerkraad genoem dat daar geen groot en klein sondes is nie, alhoewel die Here self sulke onderskeide getref het. Teks verse waarin Jesus die erns van selfs klein sondes beklemtoon het, word nou gebruik om groter sondes se erns te verklein.
Dit kom duidelik na vore waarin die predikant en die kerkraad toegestem het om 'n gay paar in die kerk te trou. Deur hierdie daad van ongehoorsaamheid, bereik die kerk 'n nuwe laagtepunt: Alhoewel dit waar is dat almal sondig is, is dit die kerk se taak om almal op te roep tot voordurende bekering, om oorlog te maak teen jou sondes en nie daaraan toe te gee nie. Kom soos jy is, ja, maar moenie bly soos jy is nie! Deur 'n gaypaar te trou, ontken die kerk in effek dat dit sonde is, en moedig hulle mense aan om in hulle sonde voort te leef. Dit het ernstige implikasies. As ons nie meer die Bybel kan vertrou om te sê wat is sonde nie, dan het ons ook nie meer 'n Verlosser nodig nie: Ons kan nie van sondes verlos word, as ons nie eers weet wat sonde is nie. Hierdie is nie maar net 'n bysaak nie, dit steek na die hart van die evangelie. Wie ookal gay verhoudings goedkeur, het nie meer 'n evangelie nie. Verder, as die Bybel nie meer vir ons kan sê wat is sonde nie, is daar ook geen rede waarom ons God nie kan dien soos ons wil nie: Of dit nou deur Buddisme, Islam of Hinduisme is. Die gay vraagstuk maak die deur tot afgodsdiens wawyd oop in die kerk. Dit gaan nie hier in die eerste plek oor die gay persoon nie, maar die gesag van God se Woord.
Ironies genoeg, selfs nadat die kerkraad hierdie toegewing gemaak het, kon hulle steeds nie die lidmate behou wat dit geëis het nie.
Probleem in die kerk: Arminiaanse Geloof
Een van die grondbeginsels van die kerkhervorming is die leer van die uitverkiesing: Die mens is dood in die sonde, en sy wil is aan boosheid verslaaf, sodat hy nie na God toe kan kom nie, tensy God sy hart vernuwe. God red dan wie Hy wil deur Jesus Christus - nie net deurdat Hy hulle sondeskuld wegneem nie, maar ook deurdat Hy vir hulle die geloof gee, asook 'n gehoorsame hart om die wil van die Vader te doen. Alle goeie werke word as die vrug van die Gees beskou, en dien as bevestiging van die redding wat God gee uit louter genade, sonder enige aandeel van die mens in sy verlossing. Goeie werke is die gevolg van verlossing, nie die oorsaak daarvan nie.
Dit is wat dit beteken om Gereformeerd te wees. Ongelukkig weet baie NG lidmate nie eers van hierdie leer nie, en daarom het hulle 'n Arminiaanse geloof: God self red niemand nie, maar uit sy genade maak Hy verlossing bloot beskikbaar en wil graag hê almal moet gered word. Hy kan egter niemand red nie, tensy mense uit hulle eie wil hierdie aanbod aanvaar en uit hulle eie uit tot geloof kom. M.a.w, dit is nie God wat die mense tot bekering bring nie, dit is die mens wat sy hart vir God gee. Goeie werke moet dan ook uit hierdie geloof te voorskein kom - want die Bybel sê 'n geloof sonder dade is dood (Jakobus) Tog, as die geloof uit jou eie wil is, dan is die goeie werke ook uit jou eie wil, en dan kan jy nie regtig meer glo aan "Sola Gratia" nie. Al bely jy dit nog met die mond, in die praktyk glo jy tog jy het 'n aandeel in jou eie verlossing. Tydens die kerk hervorming was daar nooit 'n vraag oor die noodsaaklikheid van genade nie, maar wel oor die genoegsaamheid daarvan.
Tienie wou predikant word, want hy wou mense lei na God toe. Later in die fliek, toe iemand vir hom sê: "Jy kan nie almal red nie", antwoord hy: "Red ek enigsinds enige iemand?" Dit dui daarop dat Tienie a fundimentele misverstaan van sy roeping het, want ons is nie geroep om mense te red nie, en self kan ons ook niemand red nie. Ons is bloot net geroep om die evangelie te verkondig. As ons dit op 'n suiwer en volledige manier doen, dan word God verheerlik, of mense ons nou glo of nie: As mense glo, word God verheerlik deur die openbaring van sy genade - deurdat Hy 'n verrotte mens wat dood is in sy sonde uit daardie dood laat opstaan, en hom wedergeboorte skenk. Indien nie, word God verheerlik deurdat daardie mens sy verdiende straf sal ontvang wat hy deur sy eie rebelsheid oor homself gebring het. Ons is bloot net die boodskapper wat die Koning se boodskap volledig moet oordra. Dit is die Heilige Gees wat mense oortuig en red.
Daar kan egter nie so siening in 'n Arminiaanse beskouing bestaan nie. Omdat geloof die resultaat van die menselike vrye wil is, is dit dus die predikant se verantwoordelikheid om die evangelie op so manier aan te bied sodat dit die meeste mense sal oortuig. Dit is dus die vaardigheid van die predikant, nie die Heilige Gees nie, wat die kerk vol hou. Dit plaas die predikant onder geweldige druk, en daarom sal hy selfs aan God se Woord verander (Soos met homoseksualiteit), net solank mense nie die kerk verlaat nie.
'n Onvolhoubare Oplossing.
Die fliek bied 'n oplossing vir die kerk aan, maar, alhoewel dit bedoel was om 'n goeie einde te wees, is dit eintlik die mees tragieste deel van die hele fliek!
Dominee Tienie kom tot die slotsom dat die kerk se probleem is dat mense onbetrokke is in hulle gemeenskap. Hulle leef midde in nood, maar is nie deel van die oplossing nie, en daarom verloor die kerk lidmate. Daar is 'n mate van waarheid in: 'n Kerk wat nie betrokke is in sy gemeenskap nie - of liewer - 'n gelowige wat nie betrokke is in sy gemeenskap nie - is nie 'n ware gelowige nie.
Die probleem is egter die preek. As Gereformeerdes is ons geleer dat 'n preek wat nie oor Christus se verlossingswerk gaan nie, is nie 'n preek nie. Dit maak nie saak oor watter gedeelte jy preek nie, as jy dit nie deurtrek na Christus - in wie die hele skrif sy vervulling kry nie - het jy nie gepreek nie. Christus moet in die voorgrond verskein in die prediking, die Predikant moet verdwyn in die agtergrond.
Die tema van ds Tienie se preek was "Wie is ek?". Nie "Wie is ek in Christus?" nie, net "Wie is ek?". Ds. Tienie se antwoord op die kerk se probleem is dat mense na mekaar se ervarings moet luister. Sy hele preek het bestaan uit die oorvertel van sy eie ervarings, eerder as om skrif eksegeuse en onderig uit die skrif te doen. 'n Kapstok versie is daaraan geheg om dit die fasade van skrifgebondenheid te gee. Daar was geen woord oor Jesus en die verlossing wat Hy gebring het nie. Nee, ds Tienie se persoonlike ervaring moet dien as die motivering vir die gemeente om betrokke te raak.
Stel jouself voor dat Paulus so brief aan die gemeentes sou stuur! In al Paulus se briewe spandeer hy die eerste twee derdes tot drie kwart op wat God vir ons gedoen het. Die laaste stukkie van sy brief verduidelik hy dan hoe ons met goeie werke in dankbaarheid moet antwoord. Dit is amper 'n nagedagte in sy briewe, amper asof dit onnodig is om enigsinds te noem. Die rede hiervoor is eenvouding: As jy werklik besef hoe groot jou nood voor God was, en hoe groot God se genade was om jou daarvan te red, sal jy nie anders kan as om uit dankbaarheid vir God te wil leef nie. As jy dit egter nie glo nie, is jou goeie werke nutteloos aangesien dit gronde word vir selfregverdiging. Niks hievan kom na vore in ds Tienie se preek nie. Nee, dit gaan oor wie ek kies om te wees: Gaan ek myself in vrees isoleer, of gaan ek 'n goeie en betrokke mens wees? Niks van die Heilige Gees wat my 'n nuwe skepsel maak nie, nee, dis net my eie keuse.
Die fliek eindig met die gemeente wat dan uitgaan ek kos aan hawelose mense gee. Tog lyk dit asof die enigste hulp wat verleen word, fisiese hulp is. Die mense word net kos gegee, maar daar is geen oproep tot bekering nie, geen verkondiging van God se toorn oor die sonde nie, en geen verkondiging van God se verlossing deur Jesus Christus nie. Daar kan dus geen verandering in die mense se lewens kom nie, en hulle sal dan bly terugkom om te teer op die kerk. Hulle gaan nie die mense se goeie voorbeeld raaksien en wonder waarom hulle dit doen nie, maar gaan eerder geregtig voel op die hulp van die kerk, sonder om enigsinds verantwoordelikheid vir hulleself te aanvaar. Omdat die mense wat die werk doen dit uit suiwer humanistiese oorwegings doen, eerder as, uit deur en tot 'n suiwer verstaan van die evangelie, gaan hierdie aksie ook nie volhoubaar wees nie. Mense se goeie bedoelings gaan ontnugter word deur die lelike werklikheid van die mens se verrotte natuur, en in die proses seer kry en juis vervreem raak van die kerk - omdat hulle goeie dade verkeerd gemotiveerd was.
Gevolgtrekking: Wat is die ware oplossing?
Die ware oplossing vir die kerk is 'n terugkeer na die evangelie as middelpunt van die kerk se bestaan: Die evangelie wat 'n oorwinningsreuk is vir die wat gered word, en 'n doodsreuk is vir die wat verlore gaan. Die volle Woord van God moet verkondig word, selfs al gee dit aanstoot, en selfs al verloor die kerk nog 90% van sy lidmate. As Jesus self gesê het die wat gered word is min, waarom ontstel dit ons as kerke leegloop? Solank dit is omdat die evangelie suiwer verkondig word en nie omdat die kerk sy boodskap verloor het nie, behoort dit ons nie te onstel nie.
Predikante moet herbesin oor waarom hulle predikante is: Is dit om priesterlike mag en aansien te geniet? Is dit om uit eie oortuigingsvermoeë mense te wil red? Is dit om 'n vet salaris te kry teen die einde van die maand? Of is dit om God te verheerlik deur die suiwer verkondiging van die Woord? Slegs laasgenoemde sal maak dat predikante nie uitbrand nie, want slegs laasgenoemde word nie uit eie krag of insig gedoen nie.
Gemeentes moet besef dat predikante nie hulle middelaar tot God is nie. Hulle is nie daar om jou te bedien in elke moontlike situasie nie, maar is daar om die Woord te verkondig. Gemeentes moet besef elkeen is self verantwoordelik om hulleself in die Woord te verdiep en hulle verhouding met God te bou. Niemand gaan eendag hulle voor God kan verondskuldig deur te sê "maar die dominee het sus of so gesê nie", want jy het toegang tot die Bybel self, en God gaan jou daarvoor verantwoordelik hou. Die dominee is nie jou priester of tussenganger na God nie, jy self het direkte toegang tot God deur Jesus Christus. Voorts gaan gemeentes moet besef dat ons saamkom in 'n kerk gebou om as 'n dienende gemeenskap te funksioneer. Jy is nie daar om bedien te word nie, maar om jou medegelowiges te bedien. Baie van die verantwoordelikhede wat ons op die predikante aflaai, is eintlik die verantwoordelikheid van gementelede self.
Daar is inderdaad 'n ernstige nood in die kerk. Die feit dat daar 'n fliek gemaak is oor die nood in die kerk, waarin ernstige sonde goed gekeur word, die evangelie nooit verkondig word nie, en Jesus se naam amper glad nie genoem word nie, is 'n teken van die ware nood in die kerk. Die dalende getalle is is 'n bysaak.