Saturday, 18 May 2019

Homoseksualiteit – ‘n Bybelse perspektief


Wie is ek?

 Omdat hierdie so sensitiewe saak is, ag ek dit nodig om eers iets van myself te sê voor ek met die onderwerp wegval.

1)      Ek het groot geword in die GKSA, en het my hele katkisasie loopbaan hier voltooi.

2)      My ouer broer het uit die kas gekom toe ek 21 was. Hy het in die homoseksuele leefstyl betrokke geraak, en ‘n paar jaar later het hy ‘n atteïs geword.

3)      Ek self het ‘n ander doring in die vlees gekry waarmee ek nou al 20 jaar worstel. Dit is nie iets waaroor ek praat nie. Ek noem dit, sodat julle weet ek praat nie hier vanuit die hoogte as iemand wat dink hy’s perfek nie, maar juis as iemand wat weet wat dit is om met sonde te worstel.

4)      Dit is juis as gevolg van my eie stryd teen my sonde dat ek ‘n passie ontwikkel het vir die evangelie en die suiwer leer. Alhoewel ek altyd gesteld was op die suiwer leer, is dit eers toe ek ernstig met die Here oor my sondes begin worstel het, dat die evangelie begin lewe kry het: Dit was nie meer ‘n klomp mooi klinkende godsdienstige woorde nie, dit het praktiese waarde in my lewe gebring. Ironies dat ‘n mens se sonde jou juis nader aan die Here kan bring.

5)      Ek wou nie hierdie praatjie lewer nie: Dit sny vir my bietjie naby aan die been. Aan die anderkant is dit ‘n saak waaroor ek baie sterk voel, want dit sny ook na die hart van die evangelie. Soos Moses het ek die Here gepleit om iemand anders te stuur om hierdie praatjie te lewer, maar ek het geroepe gevoel om met julle te deel wat ek uit die Bybel en eie ervaring geleer het.
Voor ons oor homoseksualiteit praat, moet ons eers die nodige fondment lê.

Wat is die bedoeling van die huwelik?


“God het die Mens geskep as Sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.” – Genesis 1:27

Hier sien ons waarom God die mens gemaak het: God het ons geskep as ‘n afbeelding van Homself. Nie ‘n fisiese afbeelding nie, want God het nie ‘n liggaam (Joh 4:24), maar ‘n afbeelding van sy karakter. In die mens beeld Hy af wie Hy is, en deel van daardie afbeelding is dat die mens tweeslagtig is. Die seksuele is dus deel van hierdie afbeelding wat God van Homself maak. In Genesis 2:24 staan daar: “Daarom sal ‘n man sy vader en moeder verlaat en saam met sy vrou lewe, en hulle sal een word.” Wanneer die Fariseers vir Jesus oor egskeiding uitvra, dan haal Hy hierdie vers aan om daaruit aan te dui wat God se oorspronklike bedoeling was met die huwelik (Markus 10:7) Dis dus duidelik dat Jesus stelling inneem dat die huwelik tussen twee mense van die teenoorgestelde geslag is.
Paulus verwys ook na hierdie gedeelte as hy praat van die huwelik in Effesiers 5:31, maar hy gaan dan verder deur te sê die huwelik is ‘n afbeelding van die verhouding tussen Christus en sy kerk. In Openbaring 19:7-9 sien ons dat die wederkoms, waar die kerk met Christus verenig word, as ‘n bruilof uitgebeeld word.

Die huwelik gaan dus nie net oor twee mense wat mekaar lief het nie, maar ook oor wat God met daardie verhouding wil uitbeeld. Om daaraan te verander, is om die beeld van God te vandaliseer. Daarom dat God Hom dan so sterk uitspreek teen seksuele sondes.
Verder gaan die huwelik nie net oor twee mense wat mekaar lief het nie, maar ook die veilige omgewing wat dit skep vir die kinders wat uit ‘n seksuele verhouding voortkom. In Maleagi 2:15 staan daar: “Die Here het man en vrou een gemaak, een in liggaam en gees. En waarom een? Omdat Hy wil hê daar moet ‘n nageslag wees wat Hom eer.”
As God ‘n verbond met iemand sluit, is dit amper altyd met die persoon en sy kinders. In 1 Korintiers 7:12-14 sê Paulus “As ‘n gelowige man met ‘n ongelowige vrou getroud is en sy is gewillig om by hom te bly, moet hy nie van haar skei nie. En as ‘n gelowige vrou met ‘n ongelowige man getroud is en hy is gewillig om by haar te bly, moet sy nie van die man skei nie. Die ongelowige man is by God aanneemlik deur die band met die gelowige vrou en die ongelowige vrou is deur God aanneemlik deur die band met die gelowige man. Anders sou julle kinders heidene wees, maar nou behoort hulle aan God. Dit gaan hier dus nie oor die gerief van die gelowige wat met die ongelowige getroud is nie, maar die beste belang vir die kinders.

Dit is dus duidelik dat die seksuele en die huwelik oor baie meer gaan as net fisiese aangetrokkenheid.

Wat is sonde?


Die hart van die sonde vind ons in Genesis 3:4, waar die slang aan die vrou sê: “God weet dat julle oë sal oopgaan die dag as julle van daardie boom eet en dan sal julle soos God wees deurdat julle alles kan ken.”  Ten diepste gaan dit dus daaroor dat die mens God se soewereiniteit vir homself begeer. Hy wil self god wees oor sy lewe, onafhanklik van God.
In Romeine 1 sien ons dat God die kennis van Hom binne bereik van elke mens gesit het, maar dat die mens moedswillig hierdie kennis onderdruk, sodat hy kan voortgaan in sy sonde. Elke mens is dus bewus daarvan dat daar so iets soos reg en verkeerd is, selfs al glo hulle nie aan God nie.

In Efesiers 2:2 staan daar: “So het ons trouens vroeër ook almal gelewe. Ons is deur ons sondige begeertes oorheers en het gedoen net waartoe ons luste ons gelei het en wat in ons gedagtes opgekom het.” Efesiers 4:22: “Hou dan op om te lewe soos julle vroeër gelewe het, breek met die ou, sondige mens in julle wat deur bedrieglike begeertes (Soos deur die ESV vertaal) verteer word

In hierdie verse kan ons sien hoe die sonde werk. Ons het wel ‘n wil – dit is ons kapasiteit om keuses te kan maak – maar die wil is nie vry nie. Dit is verslaaf aan bedrieglike sondige begeertes. Wat is ‘n begeerte? Dis die idee dat ek nie gelukkig kan wees as ek nie X kan hê of kan doen nie. Wat is dan ‘n bedrieglike begeerte? Dis die false geloof dat ek my geluk in iets kan vind wat geen geluk bring nie, en wat selfs skadelik vir my kan wees.

Byvoorbeeld: God het die mens gemaak om te werk (Gen 1:28), ons is veronderstel om ons geluk en vervulling in ons arbeid te vind. Luiheid is die bedrieglike begeerte wat jou laat glo jy sal gelukkiger wees as jy nie jou werk hoef te doen nie, maar die gevolg daarvan is depressie, swak selfbeeld en beskadiging van jou verhoudings, en ‘n gevoel van doelloosheid. Die sonde beloof dus geluk, maar bring net ongeluk.

Psalm 51:7 sê “Ek was al skuldig toe ek gebore is, met sonde belaai toe my moeder swanger geword het.” Mense vra: Hoe kan ‘n pasgebore baba wat nog niks gedoen het nie, reeds skuldig wees aan sonde voor God? Soos ons reeds gesien het – al het hy nog nie die vermoë om dit uit te leef nie, sy wil is reeds verslaaf aan sondige begeertes. Sodra hy leer loop, praat en doen, word die sonde in sy hart onmiddelik openbaar.

Wat is homoseksualiteit?

Homoseksualisme is ‘n afwyking, waar ‘n persoon seksueel aangetrokke voel, en liefde opsoek in dieselfde geslag, en ‘n totale gebrek aan sulke gevoelens vir die teenoorgestelde geslag beleef. So ’n persoon raak gewoonlik tydens puberteit bewus daarvan, en dit is onwillikeurig, m.a.w dis nie iets wat net sommer deur ‘n keuse verander kan word nie.
Om ‘n homoseksuele afwyking te hê mag dalk nie ‘n keuse wees nie, maar hoe ‘n mens daarop reageer, is wel.

Aan die een kant kry jy mense wat in opstand teen God hierdie afwyking omarm en hulle hele identiteit daarop bou. Vir hulle is dit hulle trots eerder as hulle skande.

Aan die anderkant, kry jy mense wat diep onsteld is hierdeur, omdat hulle besef dat dit skeiding bring tussen hulle en God, en omdat dit nie iets is wat net sommer kan weggaan nie, veroorsaak dit baie worsteling en twyfel.

Afhangende van waar die persoon staan, het die Bybel twee uiteenlopende boodskappe. Die evangelis Todd Friel het gesê: "As iemand sonder berou volhard in sy sonde, preek die wet. As iemand besef hoe groot sy sondenood voor God is, preek die verlossing deur Christus.

Vir die wat hulle homoseksualiteit aanneem.

Die Bybel se boodskap oor homoseksualiteit is deurlopend konsekwent.
Levitikus 18:22 sê: “Jy mag nie ‘n homoseksuele verhouding he nie, dit is ‘n afskuwelike sonde.”. Dit word herhaal in Levitikus 20:13: “’n Man wat by ‘n man le soos by ‘n vrou, doen ‘n afskuwelike sonde. Hulle moet dood gemaak word, hulle verdien die dood.” Nou, sommige mense beweer hier word eintlik net van homoseksuele tempel prostutisie gepraat, nie van ‘n “liefdevolle verhouding tussen twee mans nie”. Die teks sê egter niks van tempel prostitusie nie. In teendeel, net na 18:22 staan daar: “Jy mag met geen dier geslagsgemeenskap hê en jouself so besoedel nie. ‘n Vrou mag dit ook nie doen nie. Dit is ‘n gruwel”. Net so, twee verse na 20:13 staan daar: “’n Man wat met ‘n dier geslagsgemeenskap het, moet dood gemaak word, en die dier ook. ‘n Vrou wat met ‘n dier geslagsgemeenskap het, moet dood gemaak word, en die dier ook.” Is Bestialiteit dan ook in orde – solank as wat dit nie in ‘n afgodstempel beoefen word nie? Nee, altwee is ‘n gruwel voor God, ongeag die konteks waarin dit gepleeg word.

Hierdie gebod bly staan in die Nuwe Testament. 1 Korintiers 6:9-11 sê:  “Of weet julle nie dat mense wat onreg doen geen deel sal kry aan die koninkryk van God nie? Moenie julleself mislei nie: geen onsedelikes of afgodsdienaars of egbrekers of mense wat homoseksualiteit beoefen of diewe of geldgierigesof dronkaards of kwaadpraters of bedrieers sal deel kry aan die koninkryk van God nie. En so was party van julle ook, maar julle het julle sonde laat afwas, julle is geheilig, julle is vrygespreek in die Naam van die Here Jesus Christus en deur die Gees van God.”

Twee dinge is duidelik uit hierde teks:
1)      Mense wat onberouvol in bogenoemde sondes volhard, is nie gered nie.
2)      Dit is moontlik om weg te draai van hierdie sondes.

In Romeine 1:26-28 skryf Paulus: “Daarom gee God hulle oor aan skandelike drifte. Hulle vroue verander die natuurlike omgang in ‘n teen-natuurlike omgang. Net so laat vaar die mans ook die natuurlike omgang met die vrou en brand van begeerte vir mekaar. Mans pleeg skandelikhede met mans en bring oor hulleself die verdiende straf vir hulle perversiteit. En omdat hulle dit van geen belang ag om God te ken nie, gee Hy hulle oor aan hulle verdraaide opvattings, sodat hulle doen wat onbetaamlik is.”
Hier sien ons dat deel van die straf op die sonde is om aan sonde oorgegee te word, en dan word homoseksualiteit spesifiek genoem. ‘n Mens kan dus verwag dat as ‘n volk onder die toorn van God staan, daar ‘n toename van homoseksuele gedrag sal wees wat op die lang termyn selfvernietigend is.

Ons sien dit ook in die heel eerste geval van homoseksualiteit in die Bybel: By Sodom.
Genesis 19 vanaf vers 4:

“Voordat hulle die aand gaan slaap het, het die mans oral uit die stad uit , die mans van Sodom, oud en jonk, die hele klomp, die huis van Lot omsingel. Hulle het vir Lot geroep en vir hom gevra: “Waar is die mans wat vanaand na jou toe gekom het? Bring hulle uit na ons toe. Ons wil geslagsgemeenskap met hulle he.” Toe het Lot na die mans van Sodom toe uit gegaan. Nadat hy die deur agter hom gesluit het, het hy gesê:”Nee, vriende! Moenie so ‘n verkeerde ding doen nie. Ek het twee dogters. Hulle het nog nie gemeenskap met ‘n man gehad nie. Ek sal hulle vir julle laat uitkom, doen julle dan met hulle wat julle wil. Moet net nie iets doen aan hierdie mans nie, want hulle het onder die beskerming van my dak ingekom”

Ons sien hier Lot probeer tot die mense se gewete spreek. Uit desperaatheid maak Lot ‘n gruwelike teenvoorstel, maar dit beklemtoon net hoe erg die sonde is wat die mense van Sodom wil pleeg. Lot spreek nie verdoemend nie, maar pleit by hulle en doen ‘n beroep op hulle gewete. Kyk hoe reageer hulle:

“Toe roep die mans van Sodom: “Gee pad!” En hulle sê: “Hierdie kêrel het as vreemdeling hierheen gekom, en nou wil hy regter oor ons speel!” Ons sal hom nog meer kwaad aandoen as sy besoekers!”

Hulle weet hulle is verkeerd, maar is woedend omdat Lot hulle daarop wys – hulle wil juis daardie kennis onderdruk sodat hulle kan doen wat hulle wil. Dit is dus nie verbasend dat pro-Gay drukgroepe geweldig vyandig teenoor behoudende gelowiges optree nie.

Die argumente van die pro-Gay drukgroep.

Alhoewel de Bybel dus baie duidelik is oor hierdie onderwerp, word daar nogtans argumente geopper om mense anders te probeer oortuig. Hier is van hulle:

1)      Dit is geneties, ek is so gebore, God het my so gemaak.

Om te sê God het jou so gemaak is lasterlik, want God het die mens goed gemaak. Dis die mens homself tydens die sondeval in die verderf gestort het deur in opstand teen God te kom. Dit is ook nie waar dat homoseksualiteit geneties is nie. As dit was, sou mens met 100% akkuraatheid kon voorspel watter kind homoseksueel gaan word deur slegs sy DNA te ontleed. Maar, selfs al gee ons toe dat mense so gebore word, is dit steeds geen verskoning nie: Ons het reeds gesien dat alle mense sondig gebore word en van die begin deur sondige begeertes verteer word. Sonde bly sonde, al is jy daarmee gebore, en dit bly iets waarvan jy jou daagliks moet bekeer. Homoseksualiteit is geen uitsondering nie.

2)      Ek kan nie help ek is so nie, en dis onmenslik om te verwag dat ek moet selibaat bly.

Hierdie argument is besonder problematies. In die eerste plek:Ek is 40 en het nog nooit met enige iemand omgang gehad nie. Ek beleef dit beslis nie as besonder onmenslik nie. Selibaatheid is beslis nie ‘n onmenslike eis nie.

Die groter probleem is egter dit: Daar is mense wat ‘n onwillikeurige en eksklusiewe seksuele aangetrokkenheid voel teenoor kinders. Hulle molesteer nie noodwendig kinders nie, maar hulle kan ook nie help hoe hulle voel nie. Mens sou verwag dat veral homoseksuele mense begrip sal hê vir hierdie mense se interne worsteling, maar moenie glo nie. Hulle raak briesend kwaad as jy dit durf noem, want die bestaan van sulke mense ruk die mat onder al die pro-gay argumente uit. Die feit van die saak is, hierdie mense bestaan, en ons moet met daardie feit rekening hou. Plaas jouself in hulle skoene en dink ‘n bietjie wat hulle hoor as hulle hierdie argument hoor? Met hierdie argument is die pro-gay groep besig om kinders in gevaar te stel, ter wille van hulle eie selfregverdiging! Pedofilie is ook ‘n seksuele orientasie, en dit is iets wat ons in gedagte moet hou wanneer ons argumente evalueer.

3)       In die antieke tyd was homoseksualiteit ‘n aanvaarde gebruik.

Dit is waar – so ook was pederastie – die geinstitisionaliseerde molestering van kinders so jonk soos 12. Die feit dat iets in die verlede as normaal beskou is, maak dit nie reg in die oë van God nie.

4)      Paulus het geskryf vanuit die kulturele norm van sy tyd, maar vandag het ons ‘n beter, wetenskaplike begrip van homoseksualiteit.

Mens kan nie hierdie argument ernstig opneem in die lig van die vorige argument nie. In ‘n samelewing waarin homoseksualiteit as normaal beskou is, het Paulus alles daarvan geweet wat ons vandag daarvan weet. Plus, hierdie argument ontken dat Paulus onder die inspirasie van die Heilige Gees geskryf het, en dat sy briewe eintlik maar net sy persoonlike mening weerspieël. Dan kan jy net sowel al sy briewe uit die Bybel uithaal.

5)      Maar sê die Bybel nie “God is liefde” nie?

Hierdie teks kom uit 1 Johannes 4:8. Volgens dieselfde Johannes het Jesus egter ook gesê: “As julle my liefhet, sal julle my opdragte uitvoer” – Johannes 14:15. Jesus het sy liefde aan ons bewys deur sy lewe vir ons af te lê, ons bewys ons liefde aan God deur ons gewillige gehoorsaamheid aan Hom.

6)      Dawid sê van Jonatan: “Jou liefde was vir my wonderliker as die liefde van enige vrou.” Dawid het dus ‘n homoseksuele verhouding met Jonatan gehad.

Die liefde waarvan David hier praat, is nie ‘n seksuele liefde nie, maar die kameraadskap wat soldate wat saam geveg het vir mekaar voel. Sulke mense voel wel ‘n besondere intieme band met mekaar, maar dis nie van ‘n seksuele aard nie. Wat Dawid se seksualiteit betref: As hy homoseksueel was, sou hy nie owerspel met Batseba gepleeg het nie.

7)      Ek het gelees dat tydens die 2015 sinode van die NG Kerk, daar gesê is: In 1 Timoteus 2:8-15 sê Paulus uitdruklik dat vroue nie in die amp van predikant mag staan nie, en tog het die kerk aanbeweeg met die tye. Waarom dan so ophef maak oor die tekste oor homoseksualiteit?

Hierdie is ‘n geldige punt: As jy eers begin om dele in die Bybel dood te krap, gaan iemand anders die pen by jou afvat en nog dele doodkrap totdat daar niks oorbly nie. Daarom is ek so dankbaar dat die GKSA nie in hierdie strik getrap het nie, en in 2016  finaal besluit het om by hierdie Bybelse opdrag te bly, ten spyte van groot druk om aan die wêreld se eise toe te gee. Hierdie argument kan dus nie teen ons gebruik word nie, want ons het die integriteit van die Bybel behou. Die Bybel is of deur die Heilige Gees geïnspireer, of dis net menslike idees oor God. Daar is geen tussen in posisie nie, en jy moet maar self besluit aan watter kant jy jouself bevind. Interresant dat die pro-gay drukgroep nou ook 1 Kor 6 verwerp het wat sê dat geskille in die kerk nie voor ‘n sekulêre hof gebring moet word nie.

8)      Daar is nie groot en klein sondes nie, waarom spesiale klem lê op homoseksualiteit?

Dit is nie waar nie, God maak onderskeid tussen sondes. Die sonde van homoseksualiteit word ‘n gruwel genoem, en in die Ou Testament was dit strafbaar met die dood. In 1 Korintiers 6:18 tref Paulus die onderskeid: “Julle moet niks met seksuele losbandigheid te doen hê nie. Elke ander sonde wat ‘n mens doen, vind buite sy liggaam plaas, maar iemand wat seksueel losbandig lewe, vergryp hom aan sy eie ligaam”.  Ook Jesus sê in Lukas 10:14 “Maar vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeel draagliker wees as vir julle.” Duidelik maak God onderskeid tussen verskillende grade van sondes. Jesus sê wel ons moenie klein sondes gering ag nie, maar dit word verdraai na: “Eintlik is die groot sondes ook gering”

Verder, dit gaan nie daaroor dat die kerk homoseksualiteit uitsonder nie. Dit gaan daaroor dat die gay drukgroep glad nie wil hê die kerk moet homoseksualiteit as sonde erken nie. Ek is lid van ‘n groep van enkellopendes. Baie van die mense is geskeide mense. Tog het nog nie een van hulle ooit gesê die kerk moet ophou preek dat egskeiding sonde is en dat dit bekering vereis nie. Tog is dit presies wat die homoseksuele drukgroep van die kerk verwag.

9)      Jesus het die Fariseërs veroordeel omdat hulle die Bybel te letterlik opgeneem het. Julle doen dieselfde.

Juis nie! In Matteus 15:1-6 lees ons: “In dié tyd het daar Fariseërs en skrifgeleerdes van Jerusalem af by Jesus gekom en Hom gevra: “Hoekom verontagsaam u dissipels die oorgelewerde gebruike van die voorgeslagte? As hulle gaan eet, was hulle nie hulle hande nie.” “Waarom verontagsaam julle self die gebod van God ter wille van julle oorgelewerde gebruike?” het Jesus geantwoord.  “God het tog gesê: ‘Eer jou vader en jou moeder’ en: ‘Wie sy vader of sy moeder vloek, moet sekerlik doodgemaak word.’ Maar julle bepaal: ‘As iemand vir sy pa of sy ma sê: Die hulp wat u van my sou kon kry, maak ek 'n offergawe vir God, dan hoef hy nie meer sy plig teenoor sy pa na te kom nie.’ So ontneem julle die woord van God sy gesag ter wille van julle oorgelewerde gebruike.” Die Fariseers het juis nie God op sy Woord geneem nie, maar dit verdraai en verander om hulle te pas. Hulle het mens gemaakte wette verhef bo die Wet van God, en so die Woord van God kragteloos gemaak. Dis juis wat die pro-Gay drukgroepe ook doen deur die Bybel baie selektief te lees.

10)      Jy mag nie oordeel nie! Het Jesus nie ook gesê laat die een sonder sonde die eerste klip gooi nie?

Hierdie is seker 2 van die mees misbruikte tekste in die Bybel vandag. Jesus sê juis ons moet oordeel in Matteus 18:15-17 sê Jesus
“As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant alleen is. As hy na jou luister, het jy jou broer teruggewen. Maar as hy nie luister nie, neem nog een of twee met jou saam, sodat alles wat gesê word, deur die woord van twee of drie getuies bevestig kan word. En as hy na hulle nie luister nie, sê dit vir die gemeente. As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as 'n heiden en 'n tollenaar behandel."

So, wat van Matteus 7:1 wat s
ê:
"
Moenie oordeel nie, sodat oor julle nie geoordeel word nie; met dieselfde oordeel waarmee julle oor ander oordeel, sal oor julle geoordeel word, en met dieselfde maat waarmee julle vir ander meet, sal vir julle gemeet word."

Jesus gaan dan verder deur te s
ê: "Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog merk jy nie op nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: ‘Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal,’ en intussen is daar 'n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog uit te haal."

Mense is geneig om hierdie laaste sin mis te lees. Dit was nooit Jesus se bedoeling om te sê jy mag nie 'n splinter uit jou broer se oog uithaal nie. Jy moet net seker maak daar is nie dalk 'n balk in jou eie oog voor jy dit doen nie. Jesus sê nie hier dat ons nie mag oordeel nie, maar praat hier oor die gesindheid waarmee jy oordeel. Die sondaar mens is geneig om te oordeel om sodoende die aandag van sy eie sonde af te trek, en ook om homself met ander mense te vergelyk sodat hy homself kan oortuig hy's eintlik 'n goeie mens omdat hy beter is as hulle. 'n Goeie voorbeeld hiervan is Dawid se reaksie op Natan se gelykenis. Ons moet beslis oordeel, maar die motief mag nooit wees om jou teenoor die ander persoon op te stel nie, maar om daardie persoon in liefde terug te bring na die regte pad.

Wat betref Jesus se opmerking "Laat hy wat sonder sonde is die eerste klip gooi", Jesus het ook aan die prostituut gesê: "Gaan, en sondig nie meer nie." 
  

Wat van die Christen wat met homoseksualiteit worstel?


Hiermee bedoel ek mense wat homoseksuele aangetrokkenheid ervaar, maar dit nie wil hê nie omdat hy gehoorsaam aan God wil wees.
Merk op: Ek praat nie van ‘n Gay Christen nie, maar van ‘n Christen wat met homoseksualiteit worstel. Die rede hiervoor is dat ‘n Christen sy identiteit in Christus kry, nie in sy sonde nie. Jy kan dus nie na jouself as “Gay” verwys nie, want jou homoseksualiteit definieer nie wie jy is nie.

So ’n persoon staan voor ‘n belangrike keuse wat elke Christen eintlik doelbewus behoort te neem: Hoe belangrik is Christus vir jou?

Romeine 12:1-2 sê: “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van die groot ontverming van God: Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen. Julle moenie aan hierdie sondige wêreld gelyk word nie, maar laat God julle verander deur julle denke te vernuwe.”

Die prys van Christenskap is nie goedkoop nie: Jesus het Sy lewe vir ons gegee, en daarom eis Hy ook nou dat ons ons hele lewe aan Hom moet wy. Dit begin by die gedagtes wat ons in ons koppe toelaat. As jy Christus lief het, sal jy bereid wees om alles, insluitend jou seksualiteit, op te offer ter wille van Hom, al is dit swaar. Moenie verwag dat jy net ‘n paar keer hoef te bid, en dan gaan die probleem homself net oplos nie. Paulus het ook gebid dat die Here die splinter in sy vlees moet verwyder, maar God het nie, want Hy het 'n doel daarmee gehad. Alhoewel daar enkele getuienisse is van mense wat van homoseksualiteit genees is, is dit vir vele meer ‘n lewenslange stryd. Is jy bereid om hierdie stryd enduit te voer, tot jy eendag jou kop neer lê op 80 jarige ouderdom?

As jy voel dis swaar en onregverdig, dink ‘n bietjie aan die Apostels. As daar ooit so iets was soos super-Christene, dan was dit hulle: Hulle het die kerk van Christus wêreldwyd gevestig. Tog het dit gepaard gegaan met fisiese lyding en vervolging wat ons onself nie eers kan indink nie. Hoe is dit moontlik dat hulle onder sulke omstandighede getrou kon bly? Net as jy soos Johannes die doper sê: “Hy moet meer word, en ek minder” (Johannes 3:30), net as Christus werklik vir jou die belangrikste ding in die lewe is.

Maar nou is dit ook so dat hierdie sonde jou die hele tyd gaan teister, en daar gaan tye wees wanneer jy in swakheid val. Miskien gee jy toe aan ‘n fantasie, of jy kyk materiaal op die internet wat jy nie moet kyk nie. Na die tyd besef jy, jy het gesondig en jy voel vuil. Soos Adam is jy nou skaam om voor God te kom, en jou verhouding met God is gebreek. Wat nou? Daar is drie opsies:
1)      Jy kan vir jouself ‘n afgod in jou kop maak: ‘n god wat geen eise stel nie, en wat nie gesê het homoseksualiteit is sonde nie. Jy kan ‘n verhouding met hierdie afgod bou asof niks verkeed is nie. Dis net nie die ware God nie.
2)      Jy kan soos Adam en Eva van God probeer wegvlug, en in vrees vir Sy oordeel leef.
3)      Jy kan onmiddelik voor God kom met opregte berou en jou sondes bely. In Ps 32:3-5 skryf Dawid: “Toe ek oor my sondes geswyg het, het my liggaam uitgeteer soos ek heeldag om hulp geroep het. U hand het dag en nag swaar op my gedruk, my krag het opgedroog soos water in somerhitte. Toe het ek my sonde bely, my oortredings nie weg gesteek nie. Ek het gesê: “Voor die Here bely ek my opstandigheid”, en U het my skuld vergewe.” Dit is beslis nie maklik nie: Om te erken jy was verkeerd is om jouself te verloeën – letterlik verraad teen jouself. Dis ‘n pynlike ding om te doen, maar dit bring genesing. Lees gerus ook die hele Psalm 51.
‘n Skuldige gewete is ‘n gawe van God – dit wil jou terug lei na God toe, maar die Satan wil hê dit moet skeiding maak tussen jou en God. Dis wanneer jy nie skuldig voel nie, wat jy bekommerd moet wees. Om nie jou sonde voor God te bring nie en moedswillig aan te hou leef daarin, is die sonde teen die Heilige Gees. Maar as jy jou sondes voor Jesus bely, weet:

“God is vir ons, wie kan dan teen ons wees? Hy het Sy eie Seun nie gespaar nie, maar Hom oorgelewer om ons almal te red. Sal Hy ons dan nie al die ander dinge saam met Hom uit genade skenk nie? Wie kan die uitverkorenes van God aankla? God self spreek hulle vry. Wie kan ons veroordeel? Christus Jesus het gesterf, maar meer as dit: Hy is uit die dood opgewek, Hy sit aan die regterhand van God en Hy pleit vir ons. Wie kan ons van die liefde van Christus skei? Lyding of benoudheid of vervolging, honger of naaktheid, gevaar of swaard? Maar in al hierdie dinge is ons meer as oorwinnaars. Hiervan is ek oortuig: geen dood of lewe of engele of magte of teenswoordige of toekomstige dinge of kragte of hoogte of diepte of enige iets anders in die skepping (insluitend jou eie sondes) kan ons van die liefde van God skei nie, die liefde wat daar is in Christus Jesus ons Here”
(Romeine 8:31-39)
Om diep bewus te wees van jou sonde is beslis nie ‘n vloek nie maar ‘n seën: In Lukas 7:36-50 kry ons Jesus waar hy by die Fariseër Simon eet, toe ‘n prostituut kom en Sy voete met haar trane gewas het. Jesus sê aan die Fariseër: “
Twee mense was in die skuld by ‘n geldskieter. Die een het vyfhonderd Rand geskuld, en die ander een vyftig. Omdat hulle niks gehad het om mee te betaal nie, het hy die skuld vir altwee kwytgeskel. Wie van hulle sal hom die meeste liefde bewys?” Simon antwoord: “Ek veronderstel die een vir wie hy die meeste kwyt geskel het”. Daarop sê Jesus: “Ek sê vir jou: omdat haar sondes wat baie is, vergewe is, daarom bewys sy baie liefde. Maar hy vir wie min vergewe is, bewys min liefde”. Hoe meer jy dus onder die indruk is van hoe geweldig groot jou sonde voor God is, hoe meer besef jy hoe geweldig groot Jesus se genade is dat Hy dit vir jou betaal het, en hoe meer sal jy jou liefde vir God wil betoon deur gehoorsaam aan Sy Woord te leef. Jou worsteling met homoseksualiteit kan jou dus baie nader aan God bring as wat andersins die geval sou gewees het. Paulus sê mos in Romeine 8:28 “God laat alles ten goede meewerk vir die wat Hom lief het” (Romeine 8:28) Ook wanneer God toelaat dat Sy kinders in sonde struikel, het Hy ‘n doel daarmee –maar nooit los Hy hulle in die sonde nie, hulle staan altyd weer daaruit op. Weet: As jou homoseksualiteit vir jou ‘n gruwel is, en jy wend jou tot Christus vir vergiffenis en pleit tot die Heilige Gees vir gehoorsaamheid, kan jou sonde  jou nie van God skei nie.

Ten slotte: Waarom ons nie kan kompromeer nie.

Die stryd oor homoseksualiteit in die kerk gaan nie in die eerste plek oor homoseksuele mense nie, maar oor die gesag van die Woord. Die Bybel is baie duidelik dat homoseksualiteit ‘n gruwel  voor God is, en iets is waarvan ‘n mens jou moet bekeer. As ons dit sou minag, trek ons nie net die inspirasie van die Bybel in twyfel nie, ons verwerp ook die Bybel se gesag om sonde te definieer. As ons nie ‘n duidelike gesag het wat vir ons kan sê wat is sonde nie, hoe kan ons dan bewus word van ons eie sonde? En as ons nie bewus kan word van ons eie sonde nie, waarvoor het ons ‘n Verlosser nodig? Elke kerk wat ontken dat homoseksualiteit ‘n sonde is, verloën die evangelie en sal uiteindelik ook moet ontken dat Jesus die enigste weg na verlossing is. Hierdie saak steek dus na die hart van die evangelie. 

Vir die pro-gay drukgroep is verdraagsaamheid egter nie genoeg nie. Hulle wil hê almal moet homoseksualiteit vier as iets goed en positief. Enige iets minder is onaanvaarbaar, en hulle is bereid om die mag van die staat te gebruik om dit af te dwing. As vervolging ooit die kerk in die Westerse beskawing te beurt val, dan sal dit wees a.g.v. hierdie saak. Die kerk geboue sal nog staan, en daar sal openlike eredienste wees, maar die evangelie gaan jy nie daar kry nie.  Ons moet dus duidelikheid hê oor wat ons glo en hoekom ons dit glo, anders gaan ons nie staande bly as die aanslag kom nie, en die aanslag kom van binne die kerk.