Friday, 11 October 2013

Somerkerfees: 'n Lied vir die kerk?



Inleiding:

Dis amper kerstyd, en baie gemeentes gaan binnekort ‘n Kersprogram hê. Hierdie program bestaan gewoonlik uit skrif voorlesings en kersliedere. Een van die kersliedere wat die afgelope paar jare baie gewild geword het, is Somerkersfees, selfs ook in die kersprogramme in die Gereformeerde kerke.

Ek onthou hoe verbaas ek was toe ek sien dat hierdie lied in die nuwe NG  Liedboek opgeneem is. Ek sou dink dat die rede hiervoor voor die handliggend sou wees vir enige Dopper: ons wat juis afgeskei het as gevolg van onder andere onsuiwerhede in geestelike liedere. En tog, tot my verdere verbasing, word hierdie lied selfs in Gereformeerde Kersprogramme gebruik. Daarom dan dat ek hierdie artikel skryf.

Daar is twee tipe Kersliedere: Die eerste is natuurlik Christus gesentreerde liedere. ‘n Voorbeeld hiervan is “O, Christus ons verlange”, ‘n lied wat onsaglik ryk is aan diep geestelike inhoud.

Dan is daar Kersliedere wat kersdag besing. Liedere soos “Jingle bells” en “Have yourself a merry little Christmas” kan onder hierdie katogerie geplaas word. Dit is nie opsigself verkeerd om hierdie tipe liedere op kersfees te sing nie, maar dit is uiteraard nie geskik vir ‘n kersprogram wat deur die kerk aangebied word nie. Wanneer die kerk ‘n Kersprogram aanbied, gaan dit tog immers oor Christus se geboorte, en nie oor die sentimentaliteite rondom die viering van die dag self nie. Nie dat hierdie sentimentalisme noodwendig verkeerd is nie, maar omdat dit die kerk se plig is om die dieper rede vir daardie sentimentaliteit te verkondig: “Sola Christi”.

Hoe vergelyk Somerkersfees met ander kersliedere?

Met die uitsondering van die derde vers, val Somerkersfees hoofsaaklik in die twede kategorie, nie die eerste nie. Ek wil dit graag soos volg demonstreer: Swaar gedrukte teks dui kategorie een inhoud aan, en gewone teks dui kategorie twee inhoud aan:

Welkom o stille nag van vrede,
Onder die suiderkruis,
Wyl stemme uit die ou verlede
Oor sterrevelde ruis.
Kersfees kom, Kersfees kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Hoor jy hoe sag die klokke beier
In eeue-oue taal
Kyk, selfs die nagtelike swye
Vertel die ou verhaal
Kersfees kom, Kersfees kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Voel jy ook nou sy warm liefde
As ons die dag gedenk
Toe Hy sy Seun vir ons gegee het –
Ons grootste kersgeskenk
Christus kom, Christus kom
Gee aan God die eer.
Skenk ons ‘n helder Somerkersfees
In hierdie land, o Heer.

Soos u kan sien, is die swaargedrukte skrif in die eerste twee verse by verre in die minderheid. Kom ons vergelyk dit met ‘n ander geliefde kerslied:

Stille nag, Heilige nag
Jesus kind, lank verwag,
Lig uit lig uit die Vader se ryk
word uit liefde aan mense gelyk
Loof die hemelse kind, loof die hemel se kind.

U kan gerus dieselfde oefening herhaal met die ander kersliedere in die Liedboek: u sal sien dat nie een van hulle soveel kersfees sentimentaliteit bevat nie, almal is Christus gesentreerd.

As ek die eerste twee verse van Somerkersfees verder ontleed, wil ek u op die volgende wys:

Let hoe die uiterlike dinge van die kersfeesvieringe in detail beskryf word: die Suiderkruis, die klokke wat beier, die nagtelike swye. Wanneer daar egter na die werklike betekenis van kersfees verwys word, dan word daar baie vae, amper mistieke taal gebruik: “Stemme uit die ou verlede”, en “vertel die ou verhaal”.

In die refrein word daar wel aan God die eer gegee, maar dan is die gebed “Gee ons ‘n helder somerkersfees”, weereens sonder geestelike inhoud, en is  blote sentimentaliteit. Vergelyk hierdie gebed met die een van “O Christus ons verlange”: “Vervul in welbehae, ons harte met U Gees, skenk ons in hierdie dae, ‘n ware Christusfees”.

Slegs die derde vers van Somerkersfees doen weg met oppervlakkige sentimentaliteite, en besing die ware betekenis van Kersfees. As dit dan nou moet, is hierdie vers wel geskik vir Kerklike gebruik.

Eg Suid-Afrikaanse lied

Die mees algemeenste redenasie vir die gebruik van hierdie lied is dat dit ons enigste, egte Suid-Afrikaanse kerslied is. Hierdie redenasie mis egter heeltemaal die punt. Ja, dis ‘n mooi lied, en ja dis eg Suid-Afrikaans, maar die ware betekenis van Kersfees is egter universiëel. Wanneer dit kom by eerste kategorie kersliedere, bestaan daar nie so iets soos ‘n “eg Suid-Afrikaanse kerslied” nie, want die boodskap is van hierdie liedere is oral in die wêreld ewe relevant. Die "eg Suid-Afrikaanse" redenasie het betrekking op twede kategorie kersliedere wat gewoonlik met winter en sneeu gepaard gaan. U sal egter geen kerslied in die Liedboek of die ou Gesangeboek vind wat melding maak van sneeu en winter nie. Die rede is heel eenvoudig: Hierdie liedere besing almal die  universiële boodskap van Christus se koms, en nie die uiterlike voorkoms van Kersfeesvieringe nie.

Is Kersfees sentimentaliteite dan verkeerd?

Natuurlik is kersfees sentimentaliteit nie verkeerd nie, in teendeel, as mens nie sentimenteel voel oor kersfees nie, dan verstaan mens nie waaroor dit gaan nie. Hierdie sentimentaliteit moet egter reg gemotiveer word. As dit slegs gaan oor kersgeskenke, kersbome, die klokke wat lui, en ‘n humanistiese gees van welwilendheid, dan is die sentimentaliteit oppervlakkig en leeg. As ons sentimenteel is oor die Kind wat vir ons gebore is, dan het dit betekenis. Ek sukkel byvoorbeeld om “O Christus ons verlange” klaar te sing, omdat die ryke Christelike troos in die lied my so aan die hart gryp, dat dit trane in my oë bring. Net so sukkel ek om geestelik beweeg te word deur woorde soos "Hoor jy hoe sag die klokke beier, in eue oue taal".

Kan mens nie nogtans God prys met hierdie lied nie?

Daar is mense wat dan redeneer: Kan ons nie tog God eer met hierdie lied nie? Gaan dit nie eintlik oor wat in jou hart aangaan nie? Dit is baie waar. Ek stel my nie vir een oomblik aan as regter oor wat in mense se harte aangaan as hulle kersliedere sing nie. Daaroor sal God self oordeel. Die digter het nou wel geen beheer oor die hart van die mense wat sy liedere sing nie, maar hy kan wel sorg dat die inhoud daarvan ‘n mens se gedagtes rig op die regte dinge. Wanneer ek sing van klokke wat beier en die “ou verhaal” vertel,  is my gedagtes nie naastenby so gevestig op Christus, soos wanneer ek sing “Loof daardie Kindjie, tot ons heil gebore”.

Ons moet onsself herinner dat ons  Protestante is. Protestantisme het weg gebreek van al die byvoegsels en fieterjasies wat oor die jare geleidelik in die Roomse kerk in gekom het. Alhoewel al hierdie dinge goed bedoel was op hulle tyd, en veronderstel was om die Ware boodskap toe te lig, het dit uiteindelik presies die teenoorgestelde uitwerking gehad: Al die bykomstighede en byvoegsels het die Roomse kerk so vol gemaak, dat die Ware boodskap uiteindelik verdring is deur al die byvoegsels. Ons moet dus waak daarteen dat byvoegsels die suiwer verkondiging van die Woord in die kerk geleidelik verdring. Die vaagheid van die Christelike boodskap in Somerkersfees is nie verkeerd nie, maar wanneer dit in die Kerk gesing word, dan laat dit gevaarligte by my afgaan. Kom ons vier dan Kersfees in die Gereformeerde kerke volgens die Gereformeerde tradisie: Sola Christi, en Soli Deo Gloria. Kom ons hou by kersliedere wat Christus gesentreerd is, en vermy liedere soos Somerkersfees. Anders gaan ons nageslag spoedig ‘n twede hervorming nodig hê.

Bron : Kerkblad (2010), vol 113, uitgawe 3242, p34-35
Outeur : H.A. den Boer

No comments:

Post a Comment