Cliche : “Jy mag
nie oordeel nie.”
Hierdie cliche word gewoonlik gebruik wanneer jy iemand
vermaan oor verkeerde optrede. Die persoon wat dit gebruik doen dit gewoonlik as ‘n
skild om sy verkeerde optrede van oordeel te beskerm. Dit is waarskeinlik een
van die mees misbruikte cliche’s in die moderne kerk vandag.
Oorsprong:
“Moenie oordeel nie, sodat jy nie geoordeel word nie, met
dieselfde oordeel waarmee jy ‘n ander oordeel, sal jy geoordeel word, en met dieselfde
maat wat julle vir ‘n ander meet, sal vir julle gemeet word” – Matteus 7:1-2
“Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir
hulle gesê: “Laat die een van julle wat sonder sonde is die eerste klip gooi”-
Johannes 8:7
“Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou
mens wat ‘n ander veroordeel,wie ookal jy is. Deurdat jy oor ‘n ander ‘n
oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen
dieselfde dinge.” – Romeine 2:1
Waarom dit verkeerd
is.
Die Here het vir ons sy Wet gegee sodat ons kan onderskei
tussen reg en verkeerd. Dit impliseer dat ons moet oordeel. Trouens, in Matteus
18:15-20 gee Jesus duidelike riglyne hoe ons moet oordeel. Hy begin met: “As
jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant
is. As hy na jou luister, het jy hom terug gewen”, en Hy eindig met “As hy ook
na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar
behandel”.
Ook Paulus skryf ‘n verdoemende oordeel oor die hele mensdom
in Romeine 1-3.
So hoe moet ons hierdie versoen met die bogenoemde tekste?
Matteus 7 word duidelik as ons dit net verder lees:
“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog
is, maar die balk in jou eie oog sien jy nie raak nie? Of hoe kan jy vir jou
broer sê: “Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal”, en intussen is daar
‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan
sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”
Dit gaan dus nie hier daaroor dat ons glad nie mag oordeel
nie, dit gaan oor hoe ons moet oordeel. Wat is die motief agter jou oordeel?
Elke sondaarmens staan veroordeeld onder sy eie gewete, en
dis nie ‘n lekker plek om te wees nie. Die sondaar mens is dan geneig om ander
mense te veroordeel om beter te voel oor homself. Hy dink dat as hy slegter
mense kan uitwys as hy self, bewys dit dat hy eintlik ‘n goeie mens is. Dis
waarom mense wat self skuldig is heel maklik ander mense veroordeel: Die doel
is om die aandag weg van sy eie slegte dade te trek deur die aandag op iemand
anders te plaas. Dit is hierdie
skeinheiligheid – hierdie “balk in jou eie oog” waarvan Jesus praat. As jy
oordeel, moet jy dus eers jouself meet aan dieselfde standaard waarmee jy ander
mense meet, en seker maak jy is nie self skuldig nie. Maar Jesus eindig nie
daar nie. Nêrens beveel hy ons “Los maar die balk in jou eie oog, en ook die
splinter in jou broer se oog” nie. Inteendeel, Hy sê: Haal die balk uit jou eie
oog uit, en daarna, haal sommer ook die splinter uit jou broer se oog uit.
Ons moet oordeel, maar die motief van ons oordeel moet
anders wees. Ons oordeel nie om die aandag van ons eie sondes af te lei, of om
op ander mense te trap om beter te voel oor onsself nie. Ons oordeel met
liefde, juis met die bedoeling om mense terug te bring na die regte pad toe.
Die bedoeling van ons oordeel moenie wees om mense af te breek nie, maar om
hulle op te bou. Ons word duidelik beveel in die Nuwe Testament dat ons mekaar
MOET vermaan. Ons moet die vrymoedigheid he om mekaar te vermaan, en ons moet
die nederigheid he om vermaning te aanvaar.
Galasiers 6:1 sê: “Broers, as iemand in een of ander sonde
val, MOET julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van
sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom”.
Jakobus 5:19-20 sê: “My Broers, as een van julle van die
waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar
van sy dwaalweg terugbring, hom van die dood red en maak dat ‘n menigte sondes
vergewe word”.
Ons MAG NIE stilbly as ‘n mede-gelowige sondig nie, en as hy
dan antwoord met “Jy mag nie oordeel nie” mag ons ons nie daardeur laat afskrik
nie.
Cliche: “Daar is nie groot of klein sondes nie, en ons is almal sondaars”
Hierdie Cliche word gewoonlik gebruik wanneer jy iemand
vermaan oor verkeerde optrede. Gewoonlik gebruik die persoon hierdie cliche om
‘n growwe sonde aan ‘n geringe sonde gelyk te stel, en so sy oortreding te
minimaliseer.
Oorsprong:
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af gesê is: “Jy mag nie moord pleeg nie, en
elkeen wat moord pleeg is strafbaar voor die regbank”. Maar ek sê vir julle:
Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder,
elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek is strafbaar voor die Joodse Raad, en
wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur”. – Matt 5:21-22
“As iemand
die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte
van al die hele wet.” – Jakobus 2:10
Waarom dit verkeerd is
Die
bedoeling van Jesus se uitspraak is presies die teenoorgestelde van diegene wat
hierdie cliche gebruik. Hulle wil hiermee hulle eie sonde verlig, deur dit
gelyk te stel aan kleiner sondes, terwyl Jesus se punt juis is dat ons nie die
klein sonde moet gering ag nie. Dit is ook baie duidelik dat Jesus onderskeid
tref tussen verskillende grade van sonde. Alhoewel alle sonde tot die dood lei,
sê Jesus nogtans: “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida!
As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het,
sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. Maar ek sê vir julle: Vir Tirus
en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle” – Matteus
11:21-22
Jesus maak
dus onderskeid tussen die sonde van Tirus en Sidon, en die sonde van Gorasin en
Betsaida, wat duidelik swaarder gesondig het.
As dit nie
duidelik genoeg is in hierdie teksvers nie, wat van toe Jesus vir Pilatus gesê
het: “U sou geen gesag oor my gehad het as dit nie van Bo aan u gegee is nie.
Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld” – Johannes 19:11
Inteendeel,
mense wat hierdie cliche gebruik om hul sonde te verskoon, loop die gevaar om
die grootste sonde van almal te pleeg: Die onvergeeflike sonde teen die Heilige
Gees: “Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid
ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly
alleen die verskriklike verwagting oor van oordeel en ‘n gloeiende vuur wat die
teenstanders van God verteer. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of
drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie nie, hy word dood gemaak.
Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het,
die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van
genade beledig het?” – Hebreers 10:26-29
Cliche: “God sal nie vir jou meer gee as wat jy kan hanteer nie.”
Hierdie
woorde word soms verkeerdelik as vertroosting gebruik vir mense wat deur
moeilike tye gaan.
Oorsprong:
“Geen versoeking
wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou.
Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die
versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” - 1
Korintiërs 10:13
Waarom dit verkeerd is:
Paulus
skryf: “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in
die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo
ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het.
Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodsvonnis klaar oor ons uitgespreek
is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God
wat die dooies opwek tot die lewe.” – 2 Korintiers 1:8,9
Weerspreek
Paulus homself? Sal God ons meer gee as wat ons kan hanteer, of sal hy nie? Dit
is belangrik om op te merk waarvan daar in elke vers gepraat word. 1 Korintiers
10:13 praat nie van beproewings nie, maar van versoekings. Paulus sê dat ‘n
persoon wat in Christus is sal ooit so sterk deur sondige begeertes versoek
word dat hy hom nie daarteen kan versit nie. In daardie geval gee die Heilige
Gees vir ons die krag om elke brandpyl van die bose af te kan weer.
In 2
Korintiers 1:8-9 praat Paulus van beproewings: van swaarkry wat oor sy lewe
gekom het. God laat wel toe dat ons bo ons vermoeëns beproef word deur swaar
tye. Dink maar aan iemand wat aan ‘n pynlike en dodelike siekte ly, of iemand
wat sy werk verloor het. God laat hierdie dinge oor ons toe, sodat ons minder
op onsself sal vertrou, en meer op Hom sal vertrou.
Cliche: “Geld is die wortel van alle kwaad”
Oorsprong:
“Die liefde
vir Geld is die wortel van alle kwaad. Party het geld na gejaag en toe van die
geloof afgedwaal. Daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals
gehaal.”. – 1 Timoteus 6:10
Waarom dit verkeerd is:
Geld
opsigself is net ‘n fisiese voorwerp, soos enige iets anders in die skepping,
en die bestaan daarvan is moreel neutraal. Dit is egter hoe geld gebruik word,
wat dit goed of kwaad maak. Die teks se nie "Geld is die wortel van alle kwaad" nie, maar "Die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad" ‘n Ongesonde obsessie om meer geld bymekaar te
maak, is ‘n oortreding van die tiende gebod: “Jy mag nie begeer nie”. As mense
rykdom bo alles najaag, is mense geneig om die gebooie van God te vertrap om bo
uit te kom, en dit is die wortel van baie kwaad.
Cliche: “God help die wat hulself help”
Oorsprong:
Alhoewel
sommiges hierdie spreuk toeskryf aan Benjamin Franklin, is daar veel ouer
weergawes hiervan, met voorbeelde wat so ver terug gaan soos die Griekse
filosowe van 500 voor Christus.
Waarom dit verkeerd is:
“Julle was
dood ('n Dooie kan niks vir homself doen nie) as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse
gekenmerk het.....Vanwee ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur
God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief.
Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings,
saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered” - Effesiërs 2:1-5.
God het nie
gekom om die te help wat hulleself help
nie, maar juis om die te help wat besef hulle kan hulleself nie help nie.
Hierdie slagspreuk word gewoonlik gebruik om mense op te roep om hulle
verantwoordelikheid te aanvaar en op te neem. Dit is ook waar en reg dat God
vir ons verantwoordelikheid gegee het, waarvoor ons moet rekenskap gee: Dink
maar aan die gelykenis van die slawe met die talente. Maar as ons dink ons kan
God se guns wen deur ons veranderwoordelikheid nakom, is ons heidens in ons
denke. Nee – dit wat die gelowige motiveer om sy verantwoordelikheid na te kom,
vind ons in Romeine 12:1-2 “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond
van (m.a.w. ons motivering moet wees...) die groot ontferming van God (...die evangelie van Christus wat vir ons sondes betaal het): Gee julleself aan God as lewende en heilige
offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat
julle moet beoefen”. Ons goeie dade is ‘n dankbare, tog gebrekkige antwoord op
wat God vir ons gedoen het, deur ons van die sonde te bevry. Dit is nie ‘n
poging om God se guns te probeer wen nie.
Cliche: “Cleanliness is next to Godliness”
Oorsprong:
‘n Preek van
John Wesley in 1778, of die Joodse Talmud
Waarom dit verkeerd is:
Daar is niks
fout daarmee om persoonlike higiene te bevorder nie, en aangesien die Bybel ons
liggame as die tempel van die Heilige Gees beskryf, is daar goeie rede om te
dink die doelbewuste verwaarloosing van ons liggaam is sonde.
Vir God gaan
dit egter nie oor die liggaamlike nie, maar die geestelike.
Job het
tydens sy siekte op ‘n ashoop gewoon, en tog sê God vir sy vriende: “Ek is
kwaad vir julle omdat julle nie die waarheid oor my gepraat het soos my dienaar
Job nie. Vat sewe bulle en sewe ramme en
gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. MY
dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf
oor julle dwaasheid nie.” – Job 42:7-8
Duidelik het
persoonlike higiene hier geen rol gespeel oor wie Goddelik leef en wie nie.
Toe Samuel
‘n nuwe koning moes salf, en beindruk was met Eliab, sê die Here vir hom:
“Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want ek het hom nie
gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk
na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
Weereens ‘n
bewys dat dit vir God oor die geestelike gaan, nie die liggaamlike nie.
As mens dink
aan Jesus, is daar die voorbeeld van die vuil bedelaars oor wie Jesus Hom
ontferm het, teenoor die skoon Fariseers
wat Hy met verwerp het.
“Om jou
liggaam te oefen het wel bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe,
het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou
en die Toekoms” – 1 Timoteus 4:8.
Ons liggame
is ‘n gawe van God, en ons het ‘n verantwoordelikheid om dit op te pas, maar
ons mag nooit vergeet dat die liggaamlike in diens staan van die geestelike,
nie die geestelike in diens van die liggaamlike nie.
Cliche: “Jy moet vergewe en vergeet”
Hierdie cliche
plaas ‘n onmoontlike las op slagoffers wat growe kwaad ervaar het. Vergewe, ja
dis een ding, en die Bybel is baie duidelik dat ons moet vergewe, selfs al is
daar geen berou van die ander party nie. Vergifnis laat ons toe om nie deur ons
trauma, haat en bitterheid oorheers te word nie, en aan te kan gaan met ons
lewe. Maar hoe vergeet jy erge trauma wat jou aangedoen is?
Oorsprong:
“Dan sê Hy verder: “Aan hulle oortredings sal Ek nooit meer
dink nie” – Hebreers 10:17
Waarom dit verkeerd
is:
God praat hier van Homself, nie van ons nie. Alhoewel ons
telkens vermaan word om te vergeef, beveel God ons nooit om te vergeet nie. God
het ons juis gemaak om dinge te kan onthou.
As jy logies daaraan dink, is vergewe en vergeet wedersyds
uitsluitend: Jy kan vergewe of vergeet, maar nie altwee nie. Vergifnis beteken
dat jy nie meer ‘n wrok dra teenoor onreg wat jou aangedoen is nie. Jy kan dit
slegs doen as jy onthou dat onreg jou aangedoen is. As jy dit vergeet het, is
daar niks om te vergeef nie.
“’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit. ‘n
Onervare mens loop oop oë daarin en boet daarvoor” – Spreuke 22:3
Gestel ‘n swendelaar vang jou met ‘n fop storie, en kul jou
uit ‘n groot klomp geld. Vergifnis beteken dat jy nie vir altyd kwaad bly nie,
en jy laat vaar enige wrok wat jy teen hom koester. Maar jy gaan nie vergeet
wat hy jou aangedoen het nie, sodat jy die volgende keer nie weer vir sy
fopstorie val nie. Vergifnis is nie dieselfde as naiwiteit nie.
Cliche: “Jy moet Jesus in jou hart in nooi want God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met jou lewe”
Ons hoor hierdie cliche dikwels as mense iemand wil oortuig
om die Christelike geloof aan te neem.
Oorsprong:
“God het die Wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun
gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige
lewe sal he” – Johannes 3:16
“Kyk, ek staan by die deur en klop. As iemand my stem hoor
en die deur oopmaak, sal Ek by Hom ingaan en saam met hom feesmaal hou, en hy
saam met My”. - Openbaring 3:20
Waarom dit verkeerd
is:
Hierdie tekste word gewoonlik misbruik om die Arminiaanse of
Remonstrante se siening van God te bevestig: Die idee is dat God almal ewe lief
het, en dat God alle mense ewe graag wil red,
maar dat Hy magteloos staan om dit te doen, tensy die mens vanuit
homself kies om Jesus as sy Heer en Verlosser aan te neem. So word die
soeweiniteit van God en die krag van die Evangelie af gewater.
Wat betref die uitnodiging tot geloof: In Romeine 14:11 staan daar: “So seker as wat Ek lewe, sê
die Here, voor my sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is” Die
oproep tot geloof is nie ‘n uitnodiging van ‘n liewe Jesus nie, dit is ‘n
opdrag van die almagtige God. Jesus kom klop nie as ‘n gas aan ‘n
handvatsellose deur in die hoop dat Hy ingelaat word nie, Hy klop as die
eienaar van die huis. Dit is ‘n opdrag aan die diensknegte aan die binnekant om
oop te maak.
Die sondaar mens is
van nature in opstand teen hierdie opdrag, en sal dit nie nakom nie:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie.
Daar is nie een wat verstandig is nie, selfs nie een wat na die wil van God vra
nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie,
selfs nie een nie.” – Romeine 3:11-12
Hoe is dit dan moontlik dat iemand tot geloof kom? Johannes
1:13 sê dit duidelik: “Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van
‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” Drie maal
bevestig Johannes dat geloof nie uit jouself kom nie, maar dat dit “uit God gebore is” is. Jesus bevestig dit in
Johannes 3:3 “Dit verseker ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy
die koninkryk van God nie sien nie”. Niemand het ‘n aandeel in sy eie geboorte
gehad nie. Jou geboorte is iets wat met jou gebeur: Jy ontvang die lewe sonder
dat jy daarvoor gekies het. Ook Johannes 6:44: “Niemand kan na my toe kom as
die Vader wat my gestuur het , hom nie na my toe trek nie, en Ek sal hom op die
laaste dag uit die dood laat opstaan." Die vraag is dus nie: “Wat gaan jy maak
met Jesus” nie, maar “wat gaan Jesus maak met jou”.
Maar wat dan van Johannes 3:16? Word die lewe nie beloof aan
almal wat aan Hom glo nie? Hierdie vers sê blood wat die gevolg van geloof is,
nie die oorsaak daarvan nie. Niks in hierdie vers sê dat geloof uit jouself kom
nie, dit sê blood dat die wat die geloof het, het ook die ewige lewe.
Wat betref God se liefde, jy kan nie ‘n ongelowige na die
Christendom lok met die woorde: “God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met
jou lewe nie”, want dit is om God se liefde universieel en goedkoop te maak.
Het God miskien “’n Wonderlike plan gehad” vir die lewens van die mense wat in
die vloed omgekom het? Romeine 9:12 sê: “Vir Jakob het ek lief gehad, maar vir
Esau het ek gehaat”. God het nie alle mense ewe lief nie, en God is ook in
staat om mense te haat.
Dit is wel so dat dit nie vir ons is om te besluit wie God lief het en wie Hy haat nie en daarom moet ons die evangelie aan alle mense verkondig. Die
evangelie kom egter nie met soet sappige boodskappies wat mense laat goed voel
oor hulleself nie, maar konfronteer hulle juis met hulle sondenood en hulle behoefte
aan verlossing. Slegs wanneer ‘n persoon sondeberou toon en Jesus Christus as
sy verlosser aanneem, kan jy verklaar dat God hom lief het. Selfs dan moet ons
versigtig wees met die uitspraak: “God het ‘n wonderlike plan met jou lewe”,
want soms is God se plan vir sy kinders dat hulle moet ly en swaarkry ter wille
van die evangelie. As jy egter die “Wonderlike plan” reg verstaan: Dat jy ‘n
ewige verhouding met jou hemelse Vader het wat jou die ewige lewe gegee het,
dan kan jy enige swaarkry op aarde verdra.
Cliche: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”
Hierdie spreuk kan maklik misbruik om in diens van
voorspoedgodsdiens te staan: As ek op die Here vertrou, kan niks in my pad
staan nie, en al my planne sal uitwerk, want ek is mos tot alles instaat deur
Hom wat my krag gee.
Oorsprong:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” –
Fillipense 4:13
Waarom dit verkeerd
is:
Want konteks. As ons die volle gedeelte lees, kry hierdie
sin ‘n heel ander betekenis:
“Ek was baie bly in die Here dat julle na so lang tyd weer
gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie,
julle het net nie kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek
ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat
armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg
te he om te eet sowel as om honger te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat
my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike
omstandighede by te staan.” – Filipense 4:10-14
Paulus skryf natuurlik hier vanuit die tronk. Gesien in
hierdie konteks, raak dit duidelik wat Paulus eintlik bedoel het: Hy sê nie hy
kan enige iets doen omdat God hom die krag daarvoor gee nie. Inteendeel, hy sê
dat Hy enige omstandigheid kan verduur en enige lyding kan dra omdat hy sy krag
in die Here vind. Dit het presies die teenoorgestelde betekenis as dit wat
mense dit voor wil gebruik. Dit beteken
beslis nie alles sal goed gaan omdat die Here jou krag gee nie, dit sê dat jy
vrede kan vind, ook wanneer dit sleg gaan, omdat die Here jou krag gee.