Saturday, 17 August 2019

Christelike Clichès wat nie Bybels korrek is nie


Cliche : “Jy mag nie oordeel nie.”

Hierdie cliche word gewoonlik gebruik wanneer jy iemand vermaan oor verkeerde optrede. Die  persoon wat dit gebruik doen dit gewoonlik as ‘n skild om sy verkeerde optrede van oordeel te beskerm. Dit is waarskeinlik een van die mees misbruikte cliche’s in die moderne kerk vandag.

Oorsprong:
“Moenie oordeel nie, sodat jy nie geoordeel word nie, met dieselfde oordeel waarmee jy ‘n ander oordeel, sal jy geoordeel word, en met dieselfde maat wat julle vir ‘n ander meet, sal vir julle gemeet word” – Matteus 7:1-2

“Toe hulle aanhou om Hom te vra, het Hy regop gekom en vir hulle gesê: “Laat die een van julle wat sonder sonde is die eerste klip gooi”- Johannes 8:7

“Daarom is daar vir jou geen verontskuldiging nie, vir jou mens wat ‘n ander veroordeel,wie ookal jy is. Deurdat jy oor ‘n ander ‘n oordeel uitspreek, veroordeel jy jouself, want jy wat veroordeel, doen dieselfde dinge.” – Romeine 2:1

Waarom dit verkeerd is.
Die Here het vir ons sy Wet gegee sodat ons kan onderskei tussen reg en verkeerd. Dit impliseer dat ons moet oordeel. Trouens, in Matteus 18:15-20 gee Jesus duidelike riglyne hoe ons moet oordeel. Hy begin met: “As jou broer verkeerd opgetree het teen jou, gaan wys hom tereg waar julle eenkant is. As hy na jou luister, het jy hom terug gewen”, en Hy eindig met “As hy ook na die gemeente nie luister nie, moet jy hom as ‘n heiden en ‘n tollenaar behandel”.
Ook Paulus skryf ‘n verdoemende oordeel oor die hele mensdom in Romeine 1-3.
So hoe moet ons hierdie versoen met die bogenoemde tekste?
Matteus 7 word duidelik as ons dit net verder lees:
“Waarom sien jy die splinter raak wat in jou broer se oog is, maar die balk in jou eie oog sien jy nie raak nie? Of hoe kan jy vir jou broer sê: “Wag, laat ek die splinter uit jou oog uithaal”, en intussen is daar ‘n balk in jou eie oog? Huigelaar! Haal eers die balk uit jou eie oog uit, dan sal jy goed kan sien om die splinter uit jou broer se oog te haal.”
Dit gaan dus nie hier daaroor dat ons glad nie mag oordeel nie, dit gaan oor hoe ons moet oordeel. Wat is die motief agter jou oordeel?
Elke sondaarmens staan veroordeeld onder sy eie gewete, en dis nie ‘n lekker plek om te wees nie. Die sondaar mens is dan geneig om ander mense te veroordeel om beter te voel oor homself. Hy dink dat as hy slegter mense kan uitwys as hy self, bewys dit dat hy eintlik ‘n goeie mens is. Dis waarom mense wat self skuldig is heel maklik ander mense veroordeel: Die doel is om die aandag weg van sy eie slegte dade te trek deur die aandag op iemand anders te plaas.  Dit is hierdie skeinheiligheid – hierdie “balk in jou eie oog” waarvan Jesus praat. As jy oordeel, moet jy dus eers jouself meet aan dieselfde standaard waarmee jy ander mense meet, en seker maak jy is nie self skuldig nie. Maar Jesus eindig nie daar nie. Nêrens beveel hy ons “Los maar die balk in jou eie oog, en ook die splinter in jou broer se oog” nie. Inteendeel, Hy sê: Haal die balk uit jou eie oog uit, en daarna, haal sommer ook die splinter uit jou broer se oog uit.
Ons moet oordeel, maar die motief van ons oordeel moet anders wees. Ons oordeel nie om die aandag van ons eie sondes af te lei, of om op ander mense te trap om beter te voel oor onsself nie. Ons oordeel met liefde, juis met die bedoeling om mense terug te bring na die regte pad toe. Die bedoeling van ons oordeel moenie wees om mense af te breek nie, maar om hulle op te bou. Ons word duidelik beveel in die Nuwe Testament dat ons mekaar MOET vermaan. Ons moet die vrymoedigheid he om mekaar te vermaan, en ons moet die nederigheid he om vermaning te aanvaar.

Galasiers 6:1 sê: “Broers, as iemand in een of ander sonde val, MOET julle wat julle deur die Gees laat lei, so iemand in ‘n gees van sagmoedigheid reghelp. En pas op: jy kan self ook in versoeking kom”.
Jakobus 5:19-20 sê: “My Broers, as een van julle van die waarheid afdwaal en iemand sou hom terugbring, weet dan dat hy wat ‘n sondaar van sy dwaalweg terugbring, hom van die dood red en maak dat ‘n menigte sondes vergewe word”.
Ons MAG NIE stilbly as ‘n mede-gelowige sondig nie, en as hy dan antwoord met “Jy mag nie oordeel nie” mag ons ons nie daardeur laat afskrik nie.

Cliche: “Daar is nie groot of klein sondes nie, en ons is almal sondaars”

Hierdie Cliche word gewoonlik gebruik wanneer jy iemand vermaan oor verkeerde optrede. Gewoonlik gebruik die persoon hierdie cliche om ‘n growwe sonde aan ‘n geringe sonde gelyk te stel, en so sy oortreding te minimaliseer.

Oorsprong:
“Julle het gehoor dat daar van die ou tyd af gesê is: “Jy mag nie moord pleeg nie, en elkeen wat moord pleeg is strafbaar voor die regbank”. Maar ek sê vir julle: Elkeen wat vir sy broer kwaad is, is al strafbaar voor die regbank. Verder, elkeen wat sy broer uitskel vir ‘n gek is strafbaar voor die Joodse Raad, en wie hom uitskel vir ‘n idioot, is strafbaar met die helse vuur”. – Matt 5:21-22
“As iemand die hele wet onderhou, maar in een opsig struikel, is hy skuldig ten opsigte van al die hele wet.” – Jakobus 2:10

Waarom dit verkeerd is
Die bedoeling van Jesus se uitspraak is presies die teenoorgestelde van diegene wat hierdie cliche gebruik. Hulle wil hiermee hulle eie sonde verlig, deur dit gelyk te stel aan kleiner sondes, terwyl Jesus se punt juis is dat ons nie die klein sonde moet gering ag nie. Dit is ook baie duidelik dat Jesus onderskeid tref tussen verskillende grade van sonde. Alhoewel alle sonde tot die dood lei, sê Jesus nogtans: “Ellende wag vir jou, Gorasin! Ellende wag vir jou, Betsaida! As in Tirus en Sidon die wonderdade plaasgevind het wat in jou plaasgevind het, sou hulle hulle lankal in sak en as bekeer het. Maar ek sê vir julle: Vir Tirus en Sidon sal dit in die oordeelsdag draagliker wees as vir julle” – Matteus 11:21-22
Jesus maak dus onderskeid tussen die sonde van Tirus en Sidon, en die sonde van Gorasin en Betsaida, wat duidelik swaarder gesondig het.
As dit nie duidelik genoeg is in hierdie teksvers nie, wat van toe Jesus vir Pilatus gesê het: “U sou geen gesag oor my gehad het as dit nie van Bo aan u gegee is nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, groter skuld” – Johannes 19:11
Inteendeel, mense wat hierdie cliche gebruik om hul sonde te verskoon, loop die gevaar om die grootste sonde van almal te pleeg: Die onvergeeflike sonde teen die Heilige Gees: “Wanneer ons opsetlik bly sondig nadat ons die kennis van die waarheid ontvang het, is daar geen offer meer wat ons sondes kan wegneem nie. Daar bly alleen die verskriklike verwagting oor van oordeel en ‘n gloeiende vuur wat die teenstanders van God verteer. As iemand die wet van Moses oortree, en twee of drie getuies bevestig dit, word hy nie begenadig nie nie, hy word dood gemaak. Hoeveel swaarder straf, dink julle, sal hy kry wat die Seun van God verag het, die bloed van die verbond waardeur hy geheilig is, geminag het en die Gees van genade beledig het?” – Hebreers 10:26-29

Cliche: “God sal nie vir jou meer gee as wat jy kan hanteer nie.”

Hierdie woorde word soms verkeerdelik as vertroosting gebruik vir mense wat deur moeilike tye gaan.

Oorsprong:
“Geen versoeking wat meer is as wat ‘n mens kan weerstaan, het julle oorval nie. God is getrou. Hy sal nie toelaat dat julle bo julle kragte versoek word nie; as die versoeking kom, sal Hy ook die uitkoms gee, sodat julle dit kan weerstaan” - 1 Korintiërs 10:13

Waarom dit verkeerd is:
Paulus skryf: “Ons wil hê, broers, dat julle moet weet van die moeilikhede wat ons in die provinsie Asië ondervind het. Die swaar wat ons moes verduur, het ver bo ons kragte gegaan, sodat ons selfs die hoop om te bly lewe, laat vaar het. Trouens, dit het vir ons gevoel asof die doodsvonnis klaar oor ons uitgespreek is. Maar dit het gebeur, sodat ons nie op onsself sou vertrou nie, maar op God wat die dooies opwek tot die lewe.” – 2 Korintiers 1:8,9
Weerspreek Paulus homself? Sal God ons meer gee as wat ons kan hanteer, of sal hy nie? Dit is belangrik om op te merk waarvan daar in elke vers gepraat word. 1 Korintiers 10:13 praat nie van beproewings nie, maar van versoekings. Paulus sê dat ‘n persoon wat in Christus is sal ooit so sterk deur sondige begeertes versoek word dat hy hom nie daarteen kan versit nie. In daardie geval gee die Heilige Gees vir ons die krag om elke brandpyl van die bose af te kan weer.
In 2 Korintiers 1:8-9 praat Paulus van beproewings: van swaarkry wat oor sy lewe gekom het. God laat wel toe dat ons bo ons vermoeëns beproef word deur swaar tye. Dink maar aan iemand wat aan ‘n pynlike en dodelike siekte ly, of iemand wat sy werk verloor het. God laat hierdie dinge oor ons toe, sodat ons minder op onsself sal vertrou, en meer op Hom sal vertrou.

Cliche: “Geld is die wortel van alle kwaad”

Oorsprong:
“Die liefde vir Geld is die wortel van alle kwaad. Party het geld na gejaag en toe van die geloof afgedwaal. Daardeur het hulle hulleself baie ellende op die hals gehaal.”. – 1 Timoteus 6:10

Waarom dit verkeerd is:
Geld opsigself is net ‘n fisiese voorwerp, soos enige iets anders in die skepping, en die bestaan daarvan is moreel neutraal. Dit is egter hoe geld gebruik word, wat dit goed of kwaad maak. Die teks se nie "Geld is die wortel van alle kwaad" nie, maar "Die liefde vir geld is die wortel van alle kwaad" ‘n Ongesonde obsessie om meer geld bymekaar te maak, is ‘n oortreding van die tiende gebod: “Jy mag nie begeer nie”. As mense rykdom bo alles najaag, is mense geneig om die gebooie van God te vertrap om bo uit te kom, en dit is die wortel van baie kwaad.

Cliche: “God help die wat hulself help”

Oorsprong:
Alhoewel sommiges hierdie spreuk toeskryf aan Benjamin Franklin, is daar veel ouer weergawes hiervan, met voorbeelde wat so ver terug gaan soos die Griekse filosowe van 500 voor Christus.

Waarom dit verkeerd is:
“Julle was dood ('n Dooie kan niks vir homself doen nie) as gevolg van julle oortredings en sondes wat voorheen julle lewenswyse gekenmerk het.....Vanwee ons sondige natuur sou ons net soos die ander mense deur God gestraf moes word. Maar God is ryk in barmhartigheid en het ons innig lief. Deur sy groot liefde het Hy ons wat dood was as gevolg van ons oortredings, saam met Christus lewend gemaak. Uit genade is julle gered” - Effesiërs 2:1-5.

God het nie gekom om die te help wat hulleself  help nie, maar juis om die te help wat besef hulle kan hulleself nie help nie. Hierdie slagspreuk word gewoonlik gebruik om mense op te roep om hulle verantwoordelikheid te aanvaar en op te neem. Dit is ook waar en reg dat God vir ons verantwoordelikheid gegee het, waarvoor ons moet rekenskap gee: Dink maar aan die gelykenis van die slawe met die talente. Maar as ons dink ons kan God se guns wen deur ons veranderwoordelikheid nakom, is ons heidens in ons denke. Nee – dit wat die gelowige motiveer om sy verantwoordelikheid na te kom, vind ons in Romeine 12:1-2 “En nou doen ek ‘n beroep op julle, broers, op grond van (m.a.w. ons motivering moet wees...) die groot ontferming van God (...die evangelie van Christus wat vir ons sondes betaal het): Gee julleself aan God as lewende en heilige offers wat vir Hom aanneemlik is. Dit is die wesenlike van die godsdiens wat julle moet beoefen”. Ons goeie dade is ‘n dankbare, tog gebrekkige antwoord op wat God vir ons gedoen het, deur ons van die sonde te bevry. Dit is nie ‘n poging om God se guns te probeer wen nie.

Cliche: “Cleanliness is next to Godliness”

Oorsprong:
‘n Preek van John Wesley in 1778, of die Joodse Talmud

Waarom dit verkeerd is:
Daar is niks fout daarmee om persoonlike higiene te bevorder nie, en aangesien die Bybel ons liggame as die tempel van die Heilige Gees beskryf, is daar goeie rede om te dink die doelbewuste verwaarloosing van ons liggaam is sonde.

Vir God gaan dit egter nie oor die liggaamlike nie, maar die geestelike.
Job het tydens sy siekte op ‘n ashoop gewoon, en tog sê God vir sy vriende: “Ek is kwaad vir julle omdat julle nie die waarheid oor my gepraat het soos my dienaar Job nie. Vat sewe bulle en sewe ramme  en gaan na my dienaar Job toe en offer dit as ‘n brandoffer vir julleself. MY dienaar Job sal vir julle bid, en Ek sal sy gebed verhoor en julle nie straf oor julle dwaasheid nie.” – Job 42:7-8
Duidelik het persoonlike higiene hier geen rol gespeel oor wie Goddelik leef en wie nie.
Toe Samuel ‘n nuwe koning moes salf, en beindruk was met Eliab, sê die Here vir hom: “Moenie na sy voorkoms of sy buitengewone lengte kyk nie, want ek het hom nie gekies nie. Die Here kyk nie na dieselfde dinge as die mens nie. Die mens kyk na die uiterlike, maar die Here na die innerlike.”
Weereens ‘n bewys dat dit vir God oor die geestelike gaan, nie die liggaamlike nie.
As mens dink aan Jesus, is daar die voorbeeld van die vuil bedelaars oor wie Jesus Hom ontferm het,  teenoor die skoon Fariseers wat Hy met verwerp het.
“Om jou liggaam te oefen het wel bietjie waarde, maar om in toewyding aan God te lewe, het in alle opsigte groot waarde, want dit bevat ‘n belofte van lewe, vir nou en die Toekoms” – 1 Timoteus 4:8.
Ons liggame is ‘n gawe van God, en ons het ‘n verantwoordelikheid om dit op te pas, maar ons mag nooit vergeet dat die liggaamlike in diens staan van die geestelike, nie die geestelike in diens van die liggaamlike nie.

Cliche: “Jy moet vergewe en vergeet”

Hierdie cliche plaas ‘n onmoontlike las op slagoffers wat growe kwaad ervaar het. Vergewe, ja dis een ding, en die Bybel is baie duidelik dat ons moet vergewe, selfs al is daar geen berou van die ander party nie. Vergifnis laat ons toe om nie deur ons trauma, haat en bitterheid oorheers te word nie, en aan te kan gaan met ons lewe. Maar hoe vergeet jy erge trauma wat jou aangedoen is?

Oorsprong:
“Dan sê Hy verder: “Aan hulle oortredings sal Ek nooit meer dink nie” – Hebreers 10:17

Waarom dit verkeerd is:
God praat hier van Homself, nie van ons nie. Alhoewel ons telkens vermaan word om te vergeef, beveel God ons nooit om te vergeet nie. God het ons juis gemaak om dinge te kan onthou.
As jy logies daaraan dink, is vergewe en vergeet wedersyds uitsluitend: Jy kan vergewe of vergeet, maar nie altwee nie. Vergifnis beteken dat jy nie meer ‘n wrok dra teenoor onreg wat jou aangedoen is nie. Jy kan dit slegs doen as jy onthou dat onreg jou aangedoen is. As jy dit vergeet het, is daar niks om te vergeef nie.
“’n Verstandige mens sien onheil kom en vermy dit. ‘n Onervare mens loop oop oë daarin en boet daarvoor” – Spreuke 22:3
Gestel ‘n swendelaar vang jou met ‘n fop storie, en kul jou uit ‘n groot klomp geld. Vergifnis beteken dat jy nie vir altyd kwaad bly nie, en jy laat vaar enige wrok wat jy teen hom koester. Maar jy gaan nie vergeet wat hy jou aangedoen het nie, sodat jy die volgende keer nie weer vir sy fopstorie val nie. Vergifnis is nie dieselfde as naiwiteit nie.

Cliche: “Jy moet Jesus in jou hart in nooi want God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met jou lewe”

Ons hoor hierdie cliche dikwels as mense iemand wil oortuig om die Christelike geloof aan te neem.

Oorsprong:
“God het die Wêreld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal he” – Johannes 3:16
“Kyk, ek staan by die deur en klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek by Hom ingaan en saam met hom feesmaal hou, en hy saam met My”. - Openbaring 3:20

Waarom dit verkeerd is:
Hierdie tekste word gewoonlik misbruik om die Arminiaanse of Remonstrante se siening van God te bevestig: Die idee is dat God almal ewe lief het, en dat God alle mense ewe graag wil red,  maar dat Hy magteloos staan om dit te doen, tensy die mens vanuit homself kies om Jesus as sy Heer en Verlosser aan te neem. So word die soeweiniteit van God en die krag van die Evangelie af gewater.
Wat betref die uitnodiging tot geloof: In Romeine 14:11 staan daar: “So seker as wat Ek lewe, sê die Here, voor my sal elke knie buig, en elke tong sal bely dat Ek God is” Die oproep tot geloof is nie ‘n uitnodiging van ‘n liewe Jesus nie, dit is ‘n opdrag van die almagtige God. Jesus kom klop nie as ‘n gas aan ‘n handvatsellose deur in die hoop dat Hy ingelaat word nie, Hy klop as die eienaar van die huis. Dit is ‘n opdrag aan die diensknegte aan die binnekant om oop te maak.

 Die sondaar mens is van nature in opstand teen hierdie opdrag, en sal dit nie nakom nie:
“Daar is nie een wat regverdig is nie, selfs nie een nie. Daar is nie een wat verstandig is nie, selfs nie een wat na die wil van God vra nie. Almal het afgedwaal, almal het ontaard. Daar is nie een wat goed doen nie, selfs nie een nie.” – Romeine 3:11-12
Hoe is dit dan moontlik dat iemand tot geloof kom? Johannes 1:13 sê dit duidelik: “Hulle is dit nie van nature nie, nie deur die drang van ‘n mens of die besluit van ‘n man nie, maar hulle is uit God gebore.” Drie maal bevestig Johannes dat geloof nie uit jouself kom nie, maar dat dit  “uit God gebore is” is. Jesus bevestig dit in Johannes 3:3 “Dit verseker ek jou: As iemand nie opnuut gebore word nie, kan hy die koninkryk van God nie sien nie”. Niemand het ‘n aandeel in sy eie geboorte gehad nie. Jou geboorte is iets wat met jou gebeur: Jy ontvang die lewe sonder dat jy daarvoor gekies het. Ook Johannes 6:44: “Niemand kan na my toe kom as die Vader wat my gestuur het , hom nie na my toe trek nie, en Ek sal hom op die laaste dag uit die dood laat opstaan." Die vraag is dus nie: “Wat gaan jy maak met Jesus” nie, maar “wat gaan Jesus maak met jou”.

Maar wat dan van Johannes 3:16? Word die lewe nie beloof aan almal wat aan Hom glo nie? Hierdie vers sê blood wat die gevolg van geloof is, nie die oorsaak daarvan nie. Niks in hierdie vers sê dat geloof uit jouself kom nie, dit sê blood dat die wat die geloof het, het ook die ewige lewe.

Wat betref God se liefde, jy kan nie ‘n ongelowige na die Christendom lok met die woorde: “God het jou lief en het ‘n wonderlike plan met jou lewe nie”, want dit is om God se liefde universieel en goedkoop te maak. Het God miskien “’n Wonderlike plan gehad” vir die lewens van die mense wat in die vloed omgekom het? Romeine 9:12 sê: “Vir Jakob het ek lief gehad, maar vir Esau het ek gehaat”. God het nie alle mense ewe lief nie, en God is ook in staat om mense te haat.

Dit is wel so dat dit nie vir ons is om te besluit wie God lief het en wie Hy haat nie en daarom moet ons die evangelie aan alle mense verkondig. Die evangelie kom egter nie met soet sappige boodskappies wat mense laat goed voel oor hulleself nie, maar konfronteer hulle juis met hulle sondenood en hulle behoefte aan verlossing. Slegs wanneer ‘n persoon sondeberou toon en Jesus Christus as sy verlosser aanneem, kan jy verklaar dat God hom lief het. Selfs dan moet ons versigtig wees met die uitspraak: “God het ‘n wonderlike plan met jou lewe”, want soms is God se plan vir sy kinders dat hulle moet ly en swaarkry ter wille van die evangelie. As jy egter die “Wonderlike plan” reg verstaan: Dat jy ‘n ewige verhouding met jou hemelse Vader het wat jou die ewige lewe gegee het, dan kan jy enige swaarkry op aarde verdra.

Cliche: “Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.”

Hierdie spreuk kan maklik misbruik om in diens van voorspoedgodsdiens te staan: As ek op die Here vertrou, kan niks in my pad staan nie, en al my planne sal uitwerk, want ek is mos tot alles instaat deur Hom wat my krag gee.  

Oorsprong:
“Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee.” – Fillipense 4:13

Waarom dit verkeerd is:
Want konteks. As ons die volle gedeelte lees, kry hierdie sin ‘n heel ander betekenis:
“Ek was baie bly in die Here dat julle na so lang tyd weer gewys het dat julle nog aan my dink. Nie dat julle my ooit vergeet het nie, julle het net nie kans gehad om iets te doen nie. Ek sê dit nie omdat ek gebrek ly nie, want ek het geleer om my in alle omstandighede te behelp. Ek weet wat armoede is en ek weet wat oorvloed is; van alles het ek ondervinding: om genoeg te he om te eet sowel as om honger te ly. Ek is tot alles in staat deur Hom wat my krag gee. Nietemin het julle goed gedoen deur my in my moeilike omstandighede by te staan.” – Filipense 4:10-14
Paulus skryf natuurlik hier vanuit die tronk. Gesien in hierdie konteks, raak dit duidelik wat Paulus eintlik bedoel het: Hy sê nie hy kan enige iets doen omdat God hom die krag daarvoor gee nie. Inteendeel, hy sê dat Hy enige omstandigheid kan verduur en enige lyding kan dra omdat hy sy krag in die Here vind. Dit het presies die teenoorgestelde betekenis as dit wat mense dit voor wil gebruik.  Dit beteken beslis nie alles sal goed gaan omdat die Here jou krag gee nie, dit sê dat jy vrede kan vind, ook wanneer dit sleg gaan, omdat die Here jou krag gee.


No comments:

Post a Comment